Stephan Hepburn (39), die jagter wat in Februarie 2017 ’n man in ’n mielieland doodgeskiet het toe hy bosvarke gejag het, het vandeesweek in die Modimolle-streekhof skuld beken op ’n aanklag van strafbare manslag.
In sy pleitverduidelik hou Hepburn by sy weergawe dat hy oortuig was daarvan dat die donker vorm waarheen hy mik, ’n bosvark was. Hy het aan die hof gesê dat hy die plaaswerkers op die plaas naby Tuinplaas gewaarsku het dat hy gaan jag en dat hy seker gemaak het dat daar niemand in die mielieland was nie.
Jan Railo (23) is op die toneel dood en die polisie is onmiddellik ontbied nadat Hepburn gaan hulp soek het.
’n Poging deur die direkteur van openbare vervolging (DOV) van Limpopo om bemiddeling tussen Hepburn en Railo se familie te bewerkstellig, was onsuksesvol.
Hepburn verskyn weer aanstaande jaar in die hof.



