Duisende liter water stroom uit dorpsdam se sluis
Die boonste twee damme se vlakke het drasties gedaal terwyl die ou dorpsdam al hoe voller geword het. Hoewel goeie reën in die omgewing geval het, kon dit nie die oorsaak van die oorvol dam wees nie.
Daar was ’n paar benoude oomblikke toe die ou Warmbad-dorpsdam, wat water aan Bela-Bela voorsien, op Vrydag 7 Desember onverklaarbaar oorvol water was en duisende liter oor die damwal gestroom het.
Lede van die Warmbad-bootklub by die Fish Eagle Bay-dam het agtergekom dat iets nie pluis is nie.
Die boonste twee damme se vlakke het drasties gedaal terwyl die ou dorpsdam al hoe voller geword het. Inwoners wat naby die damme woon, het aan Die Pos gesê die ou dorpsdam het net die vorige week baie min water gehad.
Hoewel goeie reën in die omgewing geval het, kon dit nie die oorsaak van die oorvol dam wees nie.
By nadere ondersoek is gevind dat die meganisme wat die sluise by Fish Eagle Bay-dam beheer, glo deur vandale beskadig en oopgedraai is, het ’n lid van die bootklub aan Die Pos gesê. Die sluise word deur die munisipaliteit onderhou.
Die bekommernis van die bootklublede is dat duisende liter water in die proses ver-lore gegaan het. Geen bote kan sedertdien op die Fish Eagle Bay-dam vaar nie weens die baie lae watervlak.
Die Bela-Bela-munisipaliteit het flink opgetree toe die probleem bekend geword het en die skade is op dieselfde dag voor twaalfuur herstel. Dit is egter onduidelik hoeveel water verlore gegaan het.
Die bootklub se bestuur het egter besluit om die meganisme te beveilig en beplan om op hul eie koste en inisiatief die nodige veiligheidsmaatreëls aan te bring, het ’n bootklublid aan Die Pos gesê.
Groot dele van die opvangsgebied is egter steeds maklik toeganklik vir mense. Verskeie inwoners wat naby die dam woon, het aan Die Pos gesê dat hulle dik-wels onwettige houtkappers in die gebied opmerk. Hoewel inwoners al klagtes by die munisipaliteit ingedien het, is daar nie bykomende maatreëls ingestel nie.
Volgens die Bela-Bela-polisie bepaal die wet dat ’n klaer slegs ’n klag van betreding by die polisie kan open indien die klaer se eie grond betree word. Geen klagte is egter hieroor gelê nie.
Die Pos het navrae aan Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, gerig maar teen druktyd geen kommentaar ontvang nie.
- Bela-Bela ontvang sowat 45% van sy water by Magalies Water en die ander 55% kom van die ou dorpsdam wat deur die Bisschoff’s- en Fish Eagle Bay-dam gevoed word.



