BlogsOpinion

Hoofartikel: Hoor hoe raas die stilte

Hoe op aarde bly ’n mens net stil wanneer alles om jou verkeerd is?

“Bly net stil,
hou jou mond vir ewig toe,
word gesê, maar wys my hoe
mens net stilbly met als om ons verkeerd.”

Só sing die groep sangers in die bekende musiekblyspel “As jy Sing” terwyl hulle woedend met hul eetgerei op die tafels kap.

Hoe op aarde bly ’n mens net stil wanneer alles om jou verkeerd is? wil ons hier by Die Pos so dikwels uitskree.

 

 

Vir party mense is dit blykbaar baie maklik om stil te bly. Om hul monde toe te hou. Om anderkant toe te kyk. Om blind te wees teen dit wat net só verkeerd is.

Die Pos het al hoeveel kere berig oor mans wat hul vroue of vriendinne vermoor. In van dié gevalle word dramaties in die howe getuig hoe dié vroue voorheen beskermingsbevele teen die einste mans aangevra het. Oor hoe bang hulle vir hom en sy vinnige vuiste was.

Van hierdie vroue het tot soveel as drie keer hulp gesoek by die polisie, maar niemand het gehóór nie. Totdat dit vir iemand te laat was.

Nie te lank gelede nie is ’n vermeende bendelid helder oordag in een van ons townships doodgeskiet. Die hele straat was volgens ’n polisiebeampte binne minute vol mense.

Daar was hordes ooggetuies, maar toe die polisie verklarings wou afneem, wou niemand praat nie. Niemand wou betrokke raak nie. Niemand het iets gesien nie.

Is dit dalk ’n geval van: “Bly ek stil; hou geheime teen my wil?”

In die Krugerwildtuin, nie te ver van die Waterberg nie, word tot drie renosters per dag afgemaai.

Die stropers weet soms presies waar die renosters wei, wanneer daar lokvalle is en hoe om by die hekke in te kom. Hulle weet soms vooraf watter wildboere renosters op veilings koop en — uiters vreemd, nè? — watter boere by die departement van omgewingsake aansoek doen vir permitte om renosters aan te hou.

Maar niemand het iets gesien nie. Nee, niemand het iets verdags op-gemerk nie.

Die media is ook deesdae vol berigte oor kinders wat dood is nadat hulle wreed deur hul ouers mishandel is.

In sommige gevalle hoor die hof dat verskeie volwassenes geweet het van merke en breuke op die klein lyfies, maar nietemin is die kinders dood.

Niemand het hard genoeg gepraat om van hulle se lewens te red nie.

“Ek wil dit skree,
Ek wil dit skree, ek wil dit aanhou skree,
Ek wil dit gil,
Ek wil dit gil, ja die hele spul,
hoor hoe raas die stilte.”

Related Articles

Back to top button