Thelma Mokabela, ’n verpleegster van die munisipale kliniek in Vaalwater, is uiters geskok nadat Lucas Thobane haar glo op Dinsdag, 27 November in die kliniek gedreig en aangerand het.
Sy het ’n klag van aanranding teen hom by die Vaalwater-polisie gelê.
Die saak spruit uit ’n voorval waarin Mokabela haar glo wou dwing om, teenstrydig met departementele beleid, ’n derde kennisgewing van geboorte aan sy vriendin, Elizabeth Matlou, uit te reik.
Mokabela het aan Die Pos gesê die departement se beleid omskryf duidelik dat ’n verpleegster wat bygestaan het met ’n geboorte, binne 24 uur daarna ’n registrasievorm aan een van die ouers moet oorhandig.
Mokabela het aan Die Pos gesê sy het herhaaldelik aan Matlou verduidelik dat sy nie die vorm self moet invul nie, maar dit na die departement van binnelandse sake moet neem waar die proses van registrasie voltooi sal word.
“Ons het Sotho met mekaar gepraat,” het sy gesê. Matlou het glo die vorige twee kere die vorm elke keer self ingevul en daarom kon die sertifikaat nie uitgereik word nie.
Mokabela het aan Die Pos gesê Matlou het op Dinsdagaand 27 November vir ’n derde keer ’n vorm by die kliniek kom aanvra. Mokabela en ’n kollega van haar, wat ook by was toe die baba gebore is, was albei in die kliniek se konsultasiekamer.
“Ons het aan haar verduidelik hoekom die kennisgewing nie uitgereik mag word nie.” Volgens haar het Thobane tot die gesprek toegetree en sy humeur verloor.
Hy het Mokabela glo daarna deur die gesig en oor die skouer geklap en gedreig dat hy haar huis sal afbrand. Mokabela het aan Die Pos gesê dat ’n amptenaar van die departement van binnelandse sake teenwoordig was tydens die voorval.
Volgens haar het Thobane kort daarna ook haar suster Fanisa, wat baie soos sy lyk, met haar (Mokabela) verwar en haar ook gedreig dat hy haar huis sal afbrand.
Kapt. William Mpete van die Vaalwater-polisie het aan Die Pos bevestig dat daar op Dinsdag 27 November, ‘n saak van aanranding teen Thobane geopen is. Mpete het gesê dat Thobane op Donderdag, 6 Desember in die hof verskyn het en dat sy borgaansoek op Woensdag,12 Desember aangehoor word.
Hy word intussen aangehou.



