Trekkers dreun uiteindelik in Bosveld
Die reën wat die afgelope week mildelik oor groot dele van die land geval het, het groot verligting vir ’n droë Suid-Afrika gebring.
Boere in Die Pos se lesersgebied het angstig gewag vir reën sodat hulle nog betyds kan aanplant.
Volgens lesersberigte het Modimolle vanaf Vrydag 7 Desember tot Maandag 10 Desember ongeveer 100 mm reën ontvang en in die Donkerpoort-gebied is soveel as 145 mm gemeet. Bela-Bela se dorpsgedeelte het sowat 50 mm gehad, terwyl daar op Mabalingwe sowat 100 mm gemeet is. Tuinplaas het ook goeie reën gehad met reënmeters wat digby 100 mm gemeet het. Vaalwater het ongeveer 100 mm gehad en Mookgophong sowat 35 mm tot 50 mm in die Crecy-omgewing.
Die afgelope jaar was ’n uitsonderlike droë een as vanjaar se reënvalstatistiek met dié van 2017 en 2016 vergelyk word. Volgens reënvalsyfers wat NTK by hul silo’s neem, lyk Modimolle se reënval vir 2018/2019 tot November soos volg (in mm): Oktober (24) en November (5).
Die statistieke vir 2017/2018 se reënval is: Oktober (60), November (28), Desember (127), Januarie (2), Februarie (38) en Maart (58). In die 2016/2017-seisoen het die reën só geval: Oktober (60), November (95), Desember (157), Januarie (96), Februarie (51) en Maart (22).
Die reënval vir Bela-Bela in 2018/2019 lyk soos volg: Oktober (14) en November (0). In 2017/2018 het dit soveel gereën: Oktober (61), November (36), Desember (74), Januarie (53), Februarie (72) en Maart (184). In die 2016/2017-seisoen het die reën só geval: Oktober (88), November (88), Desember (108), Januarie (278), Februarie (84) en Maart (19).
In Mookgophong het daar in Oktober 5 mm geval en in November 7 mm. In 2017/2018 het reënval só daaraan uitgesien: Oktober (80), November (35), Desember (74), Januarie (102), Februarie (110), Maart (87). In die 2016/2017-seisoen: Oktober (69), November (164), Desember (171), Januarie (175), Februarie (41) en Maart (34).
Hoewel die Donkerpoortdam se voedingsgebied, wat aan Modimolle water verskaf, goeie reënval gehad het, sê Thabang Selemela, afdelingshoof van die dorp se munisipale waterdiens: “Die damvlakke is steeds onder 10% en die inloop is baie min.” Dié dorp gaan steeds onder erge watertekorte gebuk en inwoners ontvang tans beurtwater.



