Local newsNews

Bekende boer sterf aan hartaanval

“Naas Muller was ’n boer in murg en been en seker een van die mees opregte en eerlike mense wat ek ooit ontmoet en geken het.”

’n Bekende en geliefde boer van die Mookgophong-omgewing, Naas Muller, is onverwags op Maandag 10 Desember aan ’n hartaanval dood.

Volgens sy vrou, Cathy, het hy die dag oudergewoonte met sy vierwielaangedrewe motorfiets lande toe gery. Omstreeks 13:00 het sy twee seuns, Jaco en Dawie Muller wat saam met hom boer, gaan ondersoek instel toe hy nie terugkeer nie. Hulle het hom by die land langs die motorfiets aangetref en dadelik noodhulp toegepas.

Mediese hulp is dadelik ontbied en die ambulans was vinnig op die toneel, maar dit was reeds te laat.

“Naas Muller was ’n boer in murg en been en seker een van die mees opregte en eerlike mense wat ek ooit ontmoet en geken het,” het Faan Erasmus, ’n goeie vriend van hom, aan Die Pos gesê. “Sy dood laat ’n groot leemte in die gemeenskap en by sy familie en vriende.”

Muller is op 26 September 1947 op die plaas Hartebeesfontein in die omgewing gebore. Hy het sy skoolloopbaan in 1954 by Laerskool Doornfontein begin en is later na Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong.

Hy het aan Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gematrikuleer en ná skool by die departement van gesondheid begin werk.

Ná sy weermagopleiding het hy besluit om terug te keer plaas toe.

In Oktober 1973 is hy met Cathy, ’n onderwyseres by Hans Srijdom, getroud en ses kinders is uit die huwelik gebore. Volgens sy dogters Soekie du Toit, Tersia Lombaard en Elbi van der Walt was hy ongelooflik trots op sy kinders en 12 kleinkinders.

Muller was bekend vir sy betrokkenheid by die Hansies en Laerskool Eugène N. Marais. “Naas sy familie en plaas was sy grootste passie Hoërskool Hans Strijdom en Laerskool Eugène N. Marais. Hy het ure aan verskeie projekte van die skole bestee soos die tartanbaan en lapa. Hy het by albei skole betrokke gebly lank nadat sy kinders gematrikuleer het,” het Du Toit oor haar pa gesê.

“ Hy het meer as sy liter bloed gegee,” het Mauritz Hansen, oudskoolhoof van Hans Strijdom en jarelange vriend gesê.

Muller het altyd ’n sagte plek vir minderbevoorregte kinders gehad en eerder “gedoen as gepraat”.

Hy laat sy vrou, Cathy, drie seuns ,Jaco, Dawie en Naas (wat ook op die plaas boer), sy drie dogters en 12 kleinkinders agter.

“Dit het begin reën toe hy daar by die lande gelê het en dit is soos hy dit wou gehad het,” het Du Toit gesê.

Muller se gedenkdiens is op Donderdag 13 Desember by die sportgronde van Hoërskool Hans Strijdom gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button