
Die Bela-Bela poskantoor het vir ’n tweede keer binne 14 dae onder inbrekers deurgeloop.
Volgens sers. Hester van Zyl, woordvoerder van die Bela-Bela-polisie, het die jongste inbraak moontlik tussen Saterdag 8 Desember en Sondag 9 Desember plaasgevind.
Personeel het op Maandag 10 Desember niksvermoedend by die werk opgedaag en tot hul verbasing agtergekom dat daar ingebreek is. Hul het gevind dat ’n houtdeur agter in die parkeerarea oopgedwing is en die diewe het só toegang tot die perseel verkry, het Van Zyl gesê.
Die inbrekers het ongeveer 65 posstukke oopgemaak en van die inhoud verwyder. Die booswigte het hulself ook gehelp aan die personeel se verversings.
Boewe het in November ’n venster oopgebreek om toegang tot die poskantoor te kry en toe sowat 50 posstukke gesteel of beskadig.
Die poskantoor het intussen bykomende veiligheidsmaatreëls aangebring, het ’n personeellid aan Die Pos gesê. Sy het gesê kliënte wat vermoed dat hul posstukke verlore geraak het weens die inbrake, moet die poskantoor besoek.
Lt. kol. Abel Phetla, speurtakhoof, het vroeër gesê ’n verdagte wat aan verwante misdade skuldig bevind en goed aan die polisie bekend is, is onlangs uit die tronk vrygelaat.
Phetla het gesê dit is vreemd dat die inbrake skielik toeneem nadat die persoon vrygelaat is.
Nog niemand is in verband met die inbrake in hegtenis geneem nie, het Van Zyl gesê.



