CrimeNews

Verhoorafwagtende sterf in hospitaal

Hardus van der Westhuizen (58), ’n vervoerkontrakteur van Bela-Bela wat verhoorafwagtend was op aanklagte van diefstal, is die naweek in ’n Mokopane-hospitaal dood nadat hy na bewering in Pienaarsrivier aangerand is.

Volgens sers. Hester van Zyl, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het Hardus se vrou, Maria Makatane, op Woensdag, 5 Desember om 17:30 ’n oproep van hom ontvang waarin hy om hulp vra. Hy was op daardie stadium in Pienaarsrivier.

Makatane het glo haar beseerde man in sy vragmotor aangetref en hom dadelik na die Warmbad-hospitaal geneem. Hy is glo deur ’n verdagte geskop en was erg beseer, het Van Zyl gesê.

Van der Westhuizen is vir verdere mediese sorg na ’n hospitaaal in Mokopane oorgeplaas en is daar dood.

’n Nadoodse ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Volgens Van Zyl is die naam van Van der Westhuizen se vermeende aanvaller aan die polisie bekend en het Van der Westhuizen self ook dié persoon geken. Niemand is egter nog in hegtenis geneem nie aange-sien die polisie wag vir die uitslag van die nadoodse ondersoek.

Van der Westhuizen en sy seun, Danie (36), sou op Vrydag 18 Januarie 2019 weer in die Bela-Bela-landdroshof verskyn het op aanklag van diefstal.

Hulle is in November van trokbanddiefstal aangekla en Danie is ook bykomend aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde voertuigonderdele. Hardus is bykomend van veediefstal aangekla. Pa en seun is albei op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Twee plaaswerkers, Jeffrey Letlhaka (28) en Jan Makwela (34), was ook in die sop nadat die polisie op vermoedelik gesteelde beeste op Hardus se plaas in Roodekuil buite Bela-Bela afgekom het. Die beeste het glo aan die familie van sers. Frans Sekgobela van die Bela-Bela-polisie behoort, het Sekgobela vroeër aan Die Pos gesê.

Van der Westhuizen het egter ’n staatsgetuie in die veediefstalsaak geword en is met ’n waarskuwing deur die hof vrygelaat. Die hof het Letlhaka en Makwela op borgtog van R2 000 elk vrygelaat.

Die veediefstalsaak sou weer op Woensdag 12 Desember in die landdroshof voortgeduur het nadat dit vir verdere ondersoek uitgestel is.

Dit is nog onduidelik hoe Hardus se dood die hofsake sal beïnvloed.

  • Teen druktyd was begrafnisreëlings nog onbekend.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button