Sterftes op N1 in parlement bespreek
Vanjaar se groot aantal sterftes op die N1-snelweg tussen Bela-Bela en Polokwane het hierdie week ’n besprekingspunt in die parlement geword.
DA-LP Desireé van der Walt het in die parlement vrae gestel aan Blade Nzimande, minister van vervoer, oor die talle noodlottige ongelukke op die N1-snelweg.
Statistiek van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) het bevind dat daar tussen Januarie en Desember 2017 altesame 14 050 ernstige ongelukke regoor die land plaasgevind het, waarin 838 mense dood en 805 beseer is.
Volgens Nzimande se syfers wat die DA aan Die Pos verskaf het, het daar tussen 1 April 2017 en 31 Maart vanjaar 102 ernstige ongelukke met 178 sterftes op die N1-roete tussen Bela-Bela en Polokwane plaasgevind.
Sedert April vanjaar het daar 69 ernstige ongelukke plaasgevind met 134 mense wat dood is, het Nzimande gesê.
“Die departement van verkeer, in samewer-king met RTMC, het verkeersbeamptes regoor die provinsie ontplooi om sigbaarheid te bevorder en om verkeerswette toe te pas,” het Nzimande gesê. “Hulle sal onder meer fokus op spoed, mense wat nie veiligheidsgordels dra nie, voertuie wat oorlaai is, mense wat selfone gebruik terwyl hulle bestuur, asook motorryers wat nalatig bestuur.”
RTMC hou intussen bewusmakings-veldtogte waar daar ook by padblokkades inligting oor padveiligheid uitgereik sal word, asook by tolhekke op al die hoofroetes.
In aanloop tot die feesseisoen het die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) datums uitgereik wanneer verkeer druk op die paaie sal wees.
Volgens Sanral verwag hulle besondere druk verkeersvloei vanuit Gauteng na ander dele van die land oor die naweek van 14-16 Desember. Ander verwagte piektye is tussen Donderdag 20 Desember en Maandag 24 Desember, asook Maandag 31 Desember.
In die nuwe jaar is verhoogde verkeersvo-lumes van Woensdag 2 Januarie tot Sondag 6 Januarie moontlik wanneer vakansiegan-gers terugkeer huis toe. Sanral het 24-uur noodnommers bekend gemaak waar mense noodgevalle kan aanmeld. Vir die N3-snelweg tolkonsessie (N3TC) skakel tel. 0800 634 357, vir die Trans Afrika-konsessie, wat die N4-snelweg beheer, skakel tel. 0800 872 264 en vir Bakwena (N1) skakel tel. 0800 2259 362. Sarnal se noodreaksie-span kan bereik word by tel. 0800 487 233.



