Boer Toanette oor haar en Nardus
Boer Soek ’n Vrou-deelnemer Toanette Els van Modimolle kan die nuwe jaar op ’n skoon bladsy begin ná ’n rowwe 2018.
Sy was die afgelope jaar gereeld in die openbare oog, daar was die ontstellende hofsaak waarin sy van bedrog aangekla is en haar ma is aan limfklierkanker dood. Dié jong donkerkop beplan egter om 2019 met ope arms tegemoet te gaan met haar nuwe “TV-liefde” aan haar sy.
Die 24-jarige Els het verlede jaar etlike kere in die hof op Modimolle verskyn nadat ’n kliënt, Jana Smit, haar van bedrog aangekla het oor die terugbetaling van ’n deposito vir ’n wildbewaringskursus. Els het in Oktober op die TV-program Kwêla verduidelik dat Smit ’n deposito inbetaal het vir ’n kursus vir haar kind by Rangers in Training. Die dag van die kursus het die kind glo nie opgedaag nie en die kursus is uitgestel. Daar is volgens Els ooreengekom dat die geld terugbetaal sou word, maar Els het glo reeds die kind se verblyf betaal. Smit het ’n bedrogsaak teen Els aanhangig gemaak en sy is in Julie verlede jaar in hegtenis geneem. Smit se geld is intussen aan haar terugbetaal.
Die direkteur van openbare vervolging in Limpopo het verlede week besluit om Els nie verder te vervolg nie en die saak is afgehandel.
“Ek is baie verlig en bly dat ons dit nou kan agter laat,” het Els die afgelope week aan Die Pos gesê. “Ek wil nou vorentoe kyk.”
Els het deesdae ’n aantreklike jong boer, Nardus van Wyk (24) van Roedtan, aan haar sy. Van Wyk was Els se keuse tussen die vryers in die gewilde KykNet-werklikheidsreeks. Sy is die eerste vrou wat die topvyf in dié reeks, waar boere na liefde soek, gehaal het.
“Ek is glad nie spyt ek het vir Nardus gekies nie. Hy het my so baie ondersteun gedurende die hofsaak en die moeilike jaar wat verby is. Ons is albei plaaskinders, het sterk persoonlikhede en deel dieselfde belangstellings. Sy familie is aangename mense en ek is mal oor sy sussie, Elzarie Wessels,” het Els gesê.
“Die jaar wat verby is, was bitter moeilik, veral met my ma se dood. Sulke moeilike tye maak ’n mens sterker, maar dit verander ook die manier hoe ’n mens na ander mense kyk, veral as iemand jou naam onnodig deur die modder sleep.”
Els en Van Wyk is aan die bou en breek op die Van Wyks se beesplaas in Thabazimbi. “Ek geniet dit baie!”
Els sê dat sy besluit het om haar fokus te verander. “Ek dink daaraan om te begin werk en my onderneming vir eers op die langebaan te skuif. Nardus gaan vir ’n ruk lank saam met my broer, Marcus, wat plaaswerk in Amerika doen, werk. Ek gaan in dié tyd nog opleiding voltooi en sal graag met diere wil werk. Dit bly my passie,” het sy gesê.



