CrimeNews

Vermeende kabeldief doodgeskok

Langs die man, wat in ’n blou oorpak geklee was, het ’n paar werkshandskoene gelê. ’n Slotknipper het steeds bo-op die elektriese drade gelê.

’n Vermeende kabeldief se lewe is kortgeknip nadat hy vermoedelik aan ’n lewendige elektriese draad geraak het toe hy ’n kabel wou knip.

Die liggaam van ’n 35-jarige Zimbabwiese man is op Saterdag 12 Januarie onder ’n kragpaal in Lillian Ngoyistraat in Modimolle gevind. Langs die man, wat in ’n blou oorpak geklee was, het ’n paar werkshandskoene gelê. ’n Slotknipper het steeds bo-op die elektriese drade gelê. Die voorval het glo teen ongeveer 03:00 gebeur.

“Die man, wat nie geïdentifiseer kan word nie omdat sy familie nog nie in kennis gestel is van sy dood nie, het bo-op die kragpaal geklim. Hy is geskok en het van die paal afgeval,” het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisiestasie, gesê.

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die polisie ondersoek ’n saak van diefstal van kabels. Mense wat hulself skuldig maak aan diefstal van kabels en waterpompe en ander noodsaaklike infrastruktuur, kan in terme van die Wysigingswet op Strafregtelike Aangeleenthede (Wet 18 van 2015) vervolg word. Dié wet, wat op 1 Junie 2016 in werking getree het, maak voorsiening vir strenger borgtogvoorwaardes en swaarder vonnisse vir oortredings wat lei tot die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button