GalleriesSports galleries

Oor die wenstreep…

Die Pos se gereelde bydrae tot sport in en om die Waterberg.

Laerskool Vaalwater het hul jaarlikse interhuisatletiek op Vrydag 25 Januarie gehou. Daar was groot pret op én langs die baan. Die jongman wat só met oorgawe saam met sy span sing, is Riekert Joubert.

 

Hoërskool Warmbad se eerste krieketspan het puik gespeel op Saterdag 19 Januarie tydens die Coca-Cola T-20 skoletoernooi wat tuis aangebied is. Die Warries het Curro Northern Academy met sewe paaltjies, asook Taxila High School met sewe paaltjies, geklop. Rinus Jacobs het vyf paaltjies vir twee lopies in vier boulbeurte laat tuimel en sy spanmaat Ricardo Booysen het drie paaltjies vir 14 lopies in die onderskeie wedstryde laat kantel. Rinus het ook tydens die Warries se kolfbeurt teen Taxila 49 lopies nie uit nie, aangeteken. Op die foto is die Warries-span ná hulle sege.

 

Conrad Fourie het die 1 200 m vir seuns o.12 gewen. Dié jong atleet se tye beloof om later in die seisoen sy teenstaanders se oë te laat rek.

 

Laerskool Warmbad se meisiesatlete luister met aandag toe Colleen van Baalen, ouer van die skool, vir hulle ekstra wenke by die gewigstoot gee.

 

Leonette Vosloo het die 100 m meisies o.18-rekord, wat reeds 14 jaar staan, na 12,5 sekondes verbeter. Hou gerus hierdie atleet se vordering gedurende die seisoen dop.

 

Vanjaar is moontlik ’n jaar waarin die rekordboeke herskryf moet word. Maartin Vosloo hardloop skitterend in die 100 m seuns o.16-wedren. Sy tyd ewenaar die bestaande rekord.

 

Kaiden Barthram, hoofseun van die Nylies, was ’n dirigent en het al te fraai gelyk in sy rompie, hoed en das. Johan Strydom staan langs hom.

 

Die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong se interhuisatletiek is op Woensdag 16 Januarie gehou. Mia Botha is as junior Victrix Ludorum aangewys, Lani Briel as senior Victrix Ludorum, Divan de Bruin as junior Victor Ludorum en Ruan Swan as senior Victor Ludorum. By hulle is Martin van Heerden, onderwyser en afrigter.

 

Die Kiewiet-span van die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong het vanjaar met die geesbeker weggestap tydens hul interhuisatletiek op Woensdag 16 Januarie. Theuns van Wyk, Chinika Pretorius, Chaldene Burger, Juan-Re du Plooy, Victor van Dyk, James Briel en Ruan Swan lyk baie ingenoë met die prestasie.

 

Isabella Rentroia van die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong is ingesluit in die finale oefengroep van die Limpopo-hokkiespan. Die skool is baie trots op hierdie prestasie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button