LifestyleRecipes

Probeer dié heerlike visgereg

Om te onthaal en gaste te bedien, is vir Janet Neethling (32) van Mookgophong ’n passie.

Dié jong vrou en ma van twee kinders is gebore en getoë in die dorp, maar het ná skool vir ’n paar jaar in Pretoria gewoon.

Sy en haar gesin is egter Waterbergers in murg en been en woon nou weer die afgelope drie jaar in Mookgophong waar sy in die gasvryheidsbedryf werk.

Haar man, Pieter, en hulle twee spruite Jana (gr. 2) en Daniël (4) het aan Die Pos gesê dat Janet heerlike kos, veral pasta, maak. Sy het besluit om ’n maklike visgereg met die lesers van Die Pos te deel.

Sy is ’n boekwurm wat daarvan hou om liefdesverhale te lees en haar gunstelingkos is “boere-groente”.

Sy hou ook daarvan om te eksperimenteer met resepte. Haar liefde vir kosmaak het vlam gevat toe sy voltyds by ’n gastehuis betrokke geraak het.

“Hierdie is ’n resep wat ek so ’n bietjie aangepas het vir my eie smaak. Ek bedien dit met ’n mengelslaai en rys vir aandete. Die gereg vertoon ook baie mooi,” het sy gesê.

Bestanddele:

  • 600 gram stokvis filette.
  • 1 x 250 ml suurroom.
  • 1 koppie gerasperde cheddarkaas
  • 1 pakkie wituiesoppoeier
  • Halwe koppie parmesankaas

Metode:

1. Pak filette in ’n oondpan.
2. Strooi parmesankaas oor die vis.
3. Meng uiesoppoeier en suurroom saam.
4. Klits goed en gooi oor die vis.
5. Strooi die kaas bo-oor die vis en bak vir 45 min tot mooi goudbruin.
6. Die vis kan ook met ’n bietjie knoffel gesmeer word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button