Oud-Hansie sterf in ongeluk naby tinmyn
Die paaie buite Mookgophong het die afgelope week nóg ’n lewe geëis.
Die ongeluk waarin Manie van der Merwe (45) op slag dood is, het ongeveer 10 km buite Mookgophong op die R520-roete plaasgevind. Van der Merwe het vermoedelik beheer oor sy Toyota Land Cruiser verloor. Die Cruiser het om ’n skerp draai by die ingang na die Rooiberg-tinmyn omgeslaan.
Verbygaande motorryers het op Saterdag 26 Januarie om ongeveer 14:15 hulp op verskeie noodgroepe ontbied nadat hulle op die ongelukstoneel afgekom het.
Volgens Van der Merwe se broer, Rassie van der Merwe, het Manie die afgelope twee weke konstruksiewerk in Mookgophong gedoen. Hy het die Saterdagmiddag werkers in die dorp gaan aflaai en was op pad terug na die plaas waar hy tydens sy werk in die dorp gebly het.
Manie het vir die twee weke by sy ou skoolvriend, Johnny Hitchcock, tuis gegaan.
Manie was ’n oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong en het aan die einde van sy gr. 11-jaar na Pretoria verhuis waar hy aan Hoërskool Silverton gematrikuleer het.
Die Van der Merwe-gesin is oud-Bosvelders en is oorspronklik van Baltimore in Limpopo. Hulle het later in Mokopane gewoon. Manie se vrou, Rene, en hulle dogtertjie, Carmen (9), woon tans in Hoed-spruit. Van der Merwe was alleen in die voertuig tydens die ongeluk.
’n Dankdiens word op Vrydag 1 Februarie in Morelettapark, Pretoria, vir hom gehou.



