Willie Barnard vry nadat tien aanklagte teruggetrek word
’n Boer van die Heuningfontein-omgewing is vir eers ’n vry man nadat klagtes van onder meer aanranding en die rig van ’n vuurwapen wat verlede jaar aanhangig gemaak is, die afgelope week voorlopig in die hof in Modimolle teruggetrek is.
Die 59-jarige Willie Barnard het ’n week agter tralies deurgebring ná sy inhegtenisname in September verlede jaar. Die tien klagtes wat teen hom gelê is, het gevolg ná ’n beweerde onderonsie met die insittendes van ’n ander voertuig op die Heuningfontein-grondpad.
Volgens Renier van Rooyen, senior staatsaanklaer, is die klagtes teruggetrek omdat die ballistiese en forensiese uitslae nog nie ontvang is nie.
Die staat het tydens die hofverrigtinge beweer dat Barnard en sy vrou, Kathleen, skuins agter mekaar op die grondpad gery en veroorsaak dat ’n aankomende voertuig die pad byster geraak het. Daar is verder beweer dat Barnard twee van die vier insittendes van die voertuig aangerand en die k-woord toegesnou het.
Konst. Jan Kgomo, ondersoekbeampte van die Vaalwater-polisie, het tydens Barnard se borgtogaansoek getuig Barnard het gesê “die oorlog begin nou” en het sy kinders gevra om “nóg wapens te bring”.
Voordat die borgtog gebring is, het Kathleen aan Die Pos gesê die ander voertuig het teen ’n hoë spoed van voor af gekom en bykans teen hulle gebots. Dié voertuig is deur ’n elektriese omheining. Haar man het glo omgedraai om te kyk of die mense hulp benodig, maar ’n woordewisseling het ontstaan.
Die voorval het ’n rasseherrie ontketen en die hof was tydens Barnard se eerste verskyning verlede jaar stampvol mense in T-hemde van politieke partye.
Landdros Mmatlhapi Tseole het die Vaalwater-polisie tydens Barnard se borgaansoek oor die vingers getik oor die vae inligting wat aan die hof bekend gemaak is. Sy het nie die staat se versoek dat Barnard borgtog geweier moet word omdat dit in belang van gemeenskapsveiligheid is, aanvaar nie.
“Sedert die voorval op 1 September tot hy in hegtenis geneem is op 10 September het daar niks gebeur nie,” het Tseole gesê. “Moet ek iemand borgtog weier net omdat die galery vol was?” het sy gevra.
- Klagtes teen Barnard kan volgens Van Rooyen moontlik weer ingestel word sodra die ballistiese en forensiese uitslae ontvang is.



