
Suid-Afrika is ’n land met soveel diversiteit dat ’n mens se kop soms draai daarvan.
Daar is 11 amptelike tale, nege provinsies, drie hoofstede en dan praat ’n mens nie eens van al die kulture, tradisies, gelowe en politieke partye nie.
Juis omdat ons so divers is, moet Suid-Afrikaners ekstra versigtig wees om mekaar se “andersheid” te respekteer en nie op tone te trap nie. Dit is asof “anders” vir baie ’n negatiewe woord geword het, pleks daarvan dat dit as ’n vars benadering gesien word.
’n Mens sien bykans daagliks in die sosiale media die onverbiddelikheid waarmee Suid-Afrikaners met mekaar se “andersheid” omgaan.

“Embrace our Differences” was vanjaar die tema van Die Pos se jaarlikse opleidingseminaar vir ons personeel. Almal moes as deel van die prettige verrigtinge ons land se diversiteit in hul kleredrag weerspieël.
En so kom daar toe verlede Saterdagoggend 2 Maart ’n vrou in tradisionele Xhosadrag , een in Venda-klere, twee Moslemvroue, verteen-woordigers van die ANC, DA en EFF en verskeie ander kleurvolle karakters by ons kantoor in Bela-Bela aan — onder luide applous en toejuiging van die stomverbaasde groepie toeskouers wat uitgestrek op die grasperk voor ons gebou gesit en ontspan het.
“Suid-Afrikaners moet leer om nuut na mekaar se anderheid te kyk,” was die boodskap van ds. Otto Clasen, gasspreker van die dag. “Verskille veroorsaak soms konflik, maar konflik hoef nie ‘baklei’ te wees nie. Dit is veronderstel om ‘groei’ te wees,” was sy boodskap.
En net ’n span (lees: huwelik, gesin, sakeonderneming of land) wat bereid is om mekaar se verskille te omhels en te respekteer en die goeie daaruit te haal, kan groei as ’n doeltreffende, innoverende entiteit.
Die Pos-koerant “werk”, want ons is ’n groep “weirdo’s” wat dit regkry om individue se goeie eienskappe te slyp en aan te wend terwyl ons tog sáám een gemeenskaplike doel het, naamlik om elke week ’n gehalte-koerant uit te gee, was sy opmerking.
Sal dit nie wonderlik wees as Suid-Afrikaners op die mense wat “anders” as ons is, se goeie kwaliteite kan fokus om sáám die beste te word wat ons moontlik kan wees nie?



