
Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het op Woensdag 27 Februarie ’n raadsvergadering gehad met nie minder nie as 44 items op die agenda.
Die raad het die munisipaliteit se aangepaste begroting vir die 2018/2019-boekjaar goedgekeur en aanbeveel dat die munisipa-liteit se regsverteenwoordigers onmiddellik opdrag gee om ’n aansoek te bring in terme van artikel 153 van die wet op munisipale finansiële bestuur. Dié stap kan beteken dat die munisipaliteit se R400 miljoen uitstaande skuld afgeskryf word, aangesien die moontlikheid bestaan dat die munisipaliteit nooit in staat sal wees om dit af te betaal nie.
Eskom is die grootste skuldeiser. Die hooggeregshof in Polokwane het reeds twee keer in terme van dié wet grasietydperke van 90 dae aan dié munisipaliteit toegestaan wat skuldeisers verhoed het om teen die munisipaliteit op te tree.
Raadslede het ook ingestem dat hul salarisse op die vlak van ’n graad 3-munisipaliteit bly pleks van ’n graad 4-munisipaliteit, gegewe die munisipaliteit se geldelike verknorsing.
Die raad het die verhuring van die vliegveld buite Modimolle aan die Nylstroom-vliegklub goedgekeur, asook die verkoop van die grond waarop die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong gebou is.
’n Waardeerder sal die waarde van die grond bepaal.
Die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsorganisasie (Salga) het ’n voorlegging aan raadslede gedoen oor die vordering van die evalueringsproses van poste wat reeds 30 maande lank sloer. Dié proses moes plaasvind nadat Modimolle en Mookgophong se munisipaliteite saamgesmelt het en die twee munisipaliteite se werkne-mers onder een sambreel geak-kommodeer moes word.
Dié onsekerheid wat dit onder werknemers veroorsaak het, het reeds tot groot ontwrigting van die munisipaliteit gelei. Volgens Salga behoort die proses teen middel April vanjaar afgehandel te wees.



