Vermeende boewe vas danksy wakker amptenare, gaste en boere
Terwyl omstanders gehelp het om die een verdagte aan te keer, het die bestuurder van die paneelwa vermoedelik snuf in die neus gekry en volgens omstanders teen ’n ongelooflike hoë spoed uit die veilingsgrond probeer jaag.

Drie vermeende motorbanddiewe se planne is verlede week in die wiele gery by ’n wildveiling by Castle De Wildt buite Modimolle danksy ’n paar op-en-wakker werkers, boere en gaste.
Twee mans wat betrokke was by die veilingsreëlings was op Donderdag 28 Februarie besig met voorbereidings vir die veiling toe hulle vanaf hul staanplek bo die wildhokke ’n verdagte voertuig sien. Die mans het met Die Pos gepraat, maar verkies om anoniem te bly.
“Daar is voorheen motorbande by ’n paar ander veilings gesteel en ons het vermoed dat ’n wit paneelwa daarby betrokke was. Toe ons oor die voertuie uitkyk en ’n wit paneelwa tussen die voertuie opmerk, het ons onraad vermoed en die mans begin dophou,” het die een man aan Die Pos vertel.
Hulle het ook ’n video-opname van die mans se uiters verdagte optrede gemaak.
Talle mense was in die omgewing sonder om te besef wat reg onder hul neuse gebeur.
“Een van die vermeende booswigte het gemaak asof hy urineer sodra mense aangestap kom en hulle het dan weggekyk. Nog een het kort-kort ’n karmatjie uitgeskud en nog een was onder ’n voertuig doenig.”
Die twee amptenare het daarna besluit om hulp te ontbied.
Een is na die uitgangshek van Castle de Wildt en die ander een het hulp gaan soek sodat die verdagtes gekonfronteer kan word.
Terwyl omstanders gehelp het om die een verdagte aan te keer, het die bestuurder van die paneelwa vermoedelik snuf in die neus gekry en volgens omstanders teen ’n ongelooflike hoë spoed uit die veilingsgrond probeer jaag.
Die personeel by die toegangshek is intussen aangesê om die hekke toe te maak en die voertuig voor te keer.
In ’n poging om die voertuig te probeer stuit, het een van die mense by die hek ’n groot klip deur die paneelwa se voorruit geslinger toe hy sien die paneelwa gaan nie stilhou nie, maar die bestuurder het klaarblyklik net voet in die hoek gesit en by die terrein uitgejaag in die rigting van Modimolle.
Verskeie helpers is met hul privaat voertuie agterna en daar is ook intussen van oraloor hulp van veiligheidsgroepe en die polisie ontbied.
Volgens een van die mans wat by die jaagtog betrokke was, het die vermeende boewe in die ry ’n motorband uit die paneelwa in hul rigting geslinger.
’n Wakker polisieman, wat toevallig in Modimolle se hoofstraat was, het glo onraad vermoed toe hy die voertuig met die stukkende voorruit sien aankom — met verskeie ander voertuie agterna.
Die paneelwa is in Meiningerstraat voorgekeer. Die voertuig het glo skaars tot stilstand gekom toe van die boere wat agterna gejaag het stilhou en die storie aan die polisie vertel.
Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die polisie, is drie mans in hegtenis geneem op klagtes dat hulle in besit van vermoedelik gesteelde eiendom is. Ses motorbande is in die voertuig gevind.
Andrew Nkosi (45), Motuwa Monama (44) en Samuel Mkunisi (58) het op Vrydag 1 Maart in die hof op Modimolle verskyn. Die saak is uitgestel tot Vrydag 8 Maart. Hulle bly in aanhouding. Teen druktyd was dit nie bekend of hulle met een van die talle ander gevalle waar motorbande in die omgewing gesteel is, verbind kan word nie.



