Afgedankte polisiebeamptes se saak binnekort in streekhof
Die vier voormalige Bela-Bela-polisiebeamptes wat verlede jaar deur lede van die Direktoraat vir prioriteitsmisdade (die Valke) in hegtenis geneem is op aanklagte van korrupsie, gewapende roof en ontvoering, se hofsaak sal na verwagting eersdaags in die Modimolle-streekhof voortgesit word.

Sers. Humbulani Mulaudzi(39), konst. Hlengani Jan Maswanganyi (33), konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37) en konst. Simon Sebelebele (40) is in September 2018 in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat hulle na bewering ’n man vanaf ’n plaaslike dobbelplek na ’n plek buite die dorp geneem en omkoopgeld van hom geëis het. Die beamptes het die man glo gedreig dat hulle hom van geldwassery sal aankla as hy nie ’n bedrag van R190 000 aan hulle betaal nie.
Die vier is elk borgtog van R5 000 toegestaan en het destyds teruggekeer na die Bela-Bela-polisiestasie, hangende ’n interne dissiplinêre proses wat deur hooggeplaastes in die polisie gelei is.
Dié proses het buite die hofsaak plaasgevind om te bepaal of hulle geskors moet word of nie.
Die vier is in November verlede jaar ingelig dat hulle nie net geskors word nie, maar summier afgedank word. Hulle het einde Februarie vanjaar weer in die hof verskyn. Die saak is uitgestel na Woensdag 20 Maart sodat ’n streekhofdatum bepaal kan word.
Die vier se borgtog is verleng.



