Kyk wie kuier by Bosveldfees in Bela-Bela
Vanjaar se Bosveldfees skop op Vrydag 29 Maart in Bela-Bela af en duur tot Sondag 31 Maart en met die goeie gehalte kunstenaars wat sal optree, kan groot vermaak verwag word.
Die fees val in die skoolvakansie, wat goeie geleentheid aan ouers en kinders bied om ’n bietjie uit te kom.
Die geleentheid skop Vrydagaand af met die vermaaklike Piet Pompies, wat voorheen deel was van DJ Ossewa. Sy energie en buitengewone musiektalent werk aansteeklik op die gehoor in en oud en jonk sal hom baie geniet.
Die fees vind plaas op die feesterrein van Forever Resorts Warmbaths. Die ingang is in Groblerstraat en daar is volop veilige parkering vir voertuie.
Die vol program vir Saterdag 30 Maart beloof om besoekers heeldag te vermaak. Die hoofkunstenaars is die legendariese Bok van Blerk en ewe bekende Kevin Leo.


Albei kunstenaars het goeie verhoogpersoonlikhede en is bedrewe om die gehoor te betrek. Dit beloof om ’n heerlike aand van fluweelstemme en pragtige melodieë te wees.
Bykomende gaskunstenaars sluit Nolene Olivier in, asook Jannie du Plessis en Carel van Heerden. Mej. Bosveld en Mej. Bosveld Junior sal ook gekroon word. Alle voornemende deelnemers moet vinnig spring om in te skryf om hierdie groot pryse en titel te wen.
Dan is daar ’n groot veiling op Saterdag 30 Maart om 12:00. Die items wat onder die hamer kom is beeste, skape, wild en ander nuttige items in en om die huis.
Daar word ook ’n hondeskou aangebied. Mense wat graag hul honde mooi wil aantrek, toertjies wil laat wys óf wat dink dat hulle voorkoms en persoonlikhede pas bymekaar, kan gerus inskryf. Daar is groot pryse op die spel en die gehoor sal help beoordeel watter hondekind en eienaar die meeste na mekaar lyk.
Die K-9 honde-eenheid sal ook ’n vertoning lewer. Hierdie goedopgeleide diere het al menige misdadiger op hul neuse laat kyk. Die spesialiswerk wat hulle doen is tot groot voordeel van die gereg en word gereeld ingespan tydens misdaad-voorkoming.
Verskeie dansgroepe sal ook optree. Vir diegene wat lief is vir interessante snuffelstalletjies, is daar ook geleentheid om te krap en kuier. Vir die kinders is daar volop speletjies en pret gereël.
Toegang na die fees beloop die Vrydagaand R50 per persoon en R20 vir pensioentrekkers en hoërskoolkinders. Die Saterdag beloop die toegangsfooi R80 per persoon en R40 vir pensioentrekkers en hoërskoolkinders.
Die Bosveldfees beloof ’n lekker kuieratmosfeer met heerlike kos om van te kies en keur. Kom geniet gerus die fees met al sy opwindende aktiwiteite.
Vir enige navrae bel vir Maureen by tel. 083 310 0089 of Nelia by tel. 082 558 9629.



