Local newsNews

Buurtwaglid tref rondloperdonkie

“Dit kon regtig erger gewees het. Dit is hoog tyd dat vee-eienaars verantwoordelikheid neem van hulle diere.”

Die spanleier van die plaaslike reaksiespan (RSRT-buurtwag) en lid van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF), Gerhard Olivier, het op Donderdagaand 7 Maart skade aan sy werksbakkie opgedoen nadat hy op die R101-pad na Modimolle ’n rondloperdonkie raakgery het.

Die ongeluk het net voor 21:00 plaasgevind.

Dié pad is veral na-ure stikdonker en sigbaarheid bly ’n probleem vir motorryers. Motorryers kla gereeld oor rondlopervee op hierdie pad, asook op die R516-pad na Settlers.

“Dit kon regtig erger gewees het. Dit is hoog tyd dat vee-eienaars verantwoordelikheid neem van hulle diere,” het Olivier gesê.

Die donkie wat raakgery is het op die toneel gevrek weens sy beserings.

Die Bela-Bela-polisie het vroeër tydens die maandelikse plaaslike veiligheidsvergadering by die polisiestasie gesê inwoners kan ’n klag lê wan-neer hulle rondlopervee op openbare paaie aantref of wan-neer vee ’n steurnis veroorsaak.

Volgens die polisie moet daar eers sekere prosedures gevolg word en dan kan dit onder die aandag van die naaste skut gebring word, waarna reëlings getref kan word om die diere te verwyder.
Die naaste skut is in Murray-hill naby Pretoria en in Mokopane.

AfriForum, in samewerking met die Vryheidsfront Plus (VF+), boere en landbou-organisasies het verlede week daarin geslaag om vee wat onwettig op ’n plaas buite Vaalwater gevind is, te skut.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF+, het by na-vraag gesê die grondeienaars moet die polisie in sulke gevalle bel sodat die vee wat op private grond loop verwyder kan word.

Indien dit rondlopervee is, moet die plaaslike polisie in kennis gestel word en hulle sal die nodige reëlings tref om die diere te skut.

“Indien die vee nie binne 21 dae geëien word nie, het die skut die reg om die vee te verkoop. Indien die eienaar na vore kom, moet hy of sy die vervoerkostes na die skut en die daaglikse fooi per kop betaal,” het Maritz gesê. “Die klaer in die saak betaal niks.”

Die skut in Mokopane kan geskakel word by tel. (015) 491 3661.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button