Local newsNews

Bekende druiweboer oorlede

Familie en vriende het onlangs ’n jarelange druiweboer van Modimolle, Koos Crafford, gegroet nadat hy vroeër vandeesmaand oorlede is.

Crafford was een van die groot boere in die omgewing toe dié vrug nog wyd in die Waterberg-omgewing verbou was. Baie inwoners sal hom onthou vir sy betrokkenheid by die jaarlikse Druiwefees.

Crafford het kort na sy 90ste verjaardag sy heup gebreek, maar kon nie geopereer word nie. Hy het by sy dogter Ilse in die Vrystaat gaan aansterk waar hy op Donderdag 7 Maart oorlede is.

Hy was ook bekend vir sy groot liefde vir houtwerk en die meubels wat onder sy vaardige hande vorm gekry het. ’n Vreugde wat hy gedeel het deur ook vir sy kinders en kleinkinders kosbare erfstukke te maak. In sy begrafnisbrief skryf sy seun Hennie Crafford: “Ek weet Pappa en Jesus, die timmerman van Nasaret, gesels nou lekker oor houtwerk.”

“My pa was ’n gelukkige, tevrede mens. Hy het hom ingeleef in sy boerdery en houtwerk en het die mooi in die lewe raakgesien,” het sy seun aan Die Pos gesê. Hy sit die boerdery op die plaas net buite die dorp voort.

Crafford is in die Wes-Transvaal gebore, waarna hy in Vrede geboer het. Hy het sowat 30 jaar gelede na Modimolle verhuis om met druiwe te boer. Sy vrou Sophia, is etlike jare gelede reeds oorlede. Hy laat sy seun Hennie en dogter Ilse Lombard, asook ses kleinkinders en een agterkleinkind agter. Sy begrafnis is op Donderdag 14 Maart in Vrede gehou en ’n troosdiens is Maandag 18 Maart in Modimolle gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button