Oponthoud by tolhekke ’n kopseer
Met die skoolvakansie wat op Vrydag 15 Maart begin het, is lang toue by tolhekke die meeste vakansiegangers se voorland.
En dit is nie nét die lang wag by dié hekke wat motoriste se bloed laat kook nie, tariewe by tolhekke is boonop ook aan die begin van Maart verhoog.
Tydens ’n plaaslike veiligheidsvergadering wat op Donderdag 14 Maart by die Bela-Bela-polisiestasie gehou is, het lede van die veiligheidsforum gesê dat die lang wagtye by tolhekke die land se ekonomie benadeel en as gevolg daarvan ly toerisme in Limpopo skade. Besoekers oorweeg ander bestemmings waar hul nie nodig het om deur tolhekke te ry nie.
Verteenwoordigers van die Bakwena-tolhekkonsessie, wat die N1- en N4-snelweg in stand hou en beheer, het onder meer dié vergadering bygewoon.
Syd Catton, ’n plaaslike aktivis, het ’n “wenslys” aan Liam Clark, Bakwena se handelsbestuurder, voorgelê. Die lys is in oorleg met lede van die veiligheidsforum saamgestel. Die lys sien soos volg daaruit:
- ’n Versperring moet by die tolhekke aangebring word wat motorryers dwing om in ’n spesifieke baan te bly sodat hulle nie kort-kort na ander bane kan beweeg nie. Laasgenoemde optrede hou ’n gevaar vir ander motorryers in en lei meestal tot vertragings.
- Padtekens moet reeds 5 km voor die tolhek aandui watter bane beskikbaar is vir skyfiehouers en by hekke waar met kontant of kaarte betaal kan word.
- Die Bakwena e-skyfie moet met die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) se e-skyfie vervang word. Lede vra ook dat die oorspronklike Bakwena e-skyfie weer bemark moet word.
- Nog ’n voorstel was dat afslag gegee moet word tydens spitstye.
Catton het namens die vergadering gesê dat dit onaanvaarbaar is om vir langer as 10 minute by ’n tolhek te wag. Dienslewering behoort ’n prioriteit te wees.
Phillip Seloane van die Bela-Bela-verkeersafdeling het aan Clark gesê dat daar op ’n stadium ’n reëling was met die Carousel-tolhek. Dié reëling het behels dat die hekke by dié tolhek oopgestel word in tye van groot verkeervolumes ten einde verkeersopeenhopings te voorkom en die verkeersvloei te verbeter.
Clark, wat Bakwena verteenwoordig het, het die vergadering daarop gewys dat dié spesifieke tolhek eintlik onder Noordwes-owerheid val en hul nie kan sê wie die magtiging vir so ’n besluit kan gee nie. Clark en ander verteenwoordigers het onderneem om by die volgende vergadering wat op Donderdag 11 April sal plaasvind, terugvoer oor die aangeleentheid te gee.
Die Bakwena-verteenwoordigers het ten slotte gesê dat spitstye weekliks op die N1 tussen 12:30 en 15:00 suidwaarts plaasvind en noordwaarts eers ná 15:00.
Die Bela-Bela-verkeersafdeling het die vergadering ingelig dat hulle personeel se werktye aangepas het om die dorp se hoër verkeervolumes beter te hanteer. Amptenare werk nou in twee skofte op rotasie-basis tussen 07:00 en 18:00 waarna hul op bystanddiens sal wees, het Seloane gesê. - Tolheffings by die Kranskop-tolhek het verhoog na R45 (klas 1-voertuie), R114 (klas 2), R153 (klas 3) en R187 vir klas 4-voertuie. Die afrit na Modimolle het verhoog vanaf R12 na R12, 50.
By die Carousel-tolhek gaan motorryers R56 (klas 1), R150 (klas 2), R165 (klas 3) en R191 (klas 4) betaal.
Die Pumulani-tolhek, die laaste tolhek voor Pretoria suid van Hammanskraal, kos nou R12 (klas 1), R30 (klas 2), R35 (klas 3) en R42 (klas 4).



