Local newsNews

Veelsydige voëlboer ná kankerstryd oorlede

’n Bekende voëlboer van Modimolle, Willem Grobler, is onlangs oorlede nadat hy ’n paar maande gelede met kwaadaardige mesothelioom, ’n soort longkanker, gediagnoseer is.

Grobler (67) het jare lank met voëls net buite Modimolle geboer. Hy het egter die voëlboerdery, asook ’n boerdery met wildekatspesies, later in Roedtan voortgesit.

Grobler het volgens sy vrou, Miemie, in die laat 1970’s met beeste en katoen in Koedoeskop geboer, waarna hy suksesvol met piesangs in Hazyview geboer het. Hy het sy voëlboerdery in Modimolle in 1992 op die been gebring en voëls wêreldwyd uitgevoer. Toe voëlboerdery destyds bykans tot stilstand gedwing is deur die hoogs aansteeklike voëlgriep wat in Suid-Afrika uitgebreek het, het Grobler ook in die boubedryf betrokke geraak.

“Willem was ’n baie geliefde persoon. Sy familie en vriende gaan hom baie mis. Ons gaan sy ongelooflike kennis oor diere en voëls definitief mis, maar solank dit moontlik is, gaan ons voort met sy nalatenskap,” het Miemie gesê.

’n Vriend van Grobler, Ben Minnaar, beskryf hom in ’n huldeblyk as die soort mens wat in die ou dae die wildernis sou tem. “As daar ’n mark vir ’n papegaai was, het gewone boere vyf pare voëls gehad, maar dan het Willem 500 pare gehad. Hy het die gawe gehad om projekte aan te pak wat ander mense sou afskrik. Om alleen in Mosambiek in te gaan en kwarantynstasies te bou, permitte te kry om voëls te laat vang en uitvoere te reël het niemand behalwe Willem voor kans gesien nie. Hy was ’n baanbreker.”

Grobler laat sy vrou Miemie en kinders Christine Mccutcheon, Doreth van der Linde, Lizet Grobler, Leanné Rentroia en Armand Vos agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button