Local newsNews

Opleidingsdag vir plaaswerkers ’n groot sukses

’n Opleidingsdag vir plaaswerkers wat einde Februarie tydens die Landbou-,Wild-, en Jag-ekspo by Castle de Wildt buite Modimolle plaasgevind het, was ’n groot sukses.

Die geleentheid, wat op Donderdag 28 Februarie plaasgevind het, is aangebied deur Wildlife Ranching South Africa (WRSA) en die Naboomspruit-bedryfstak van dié organisasie het al die reëlings gehanteer.

Werkers is onder meer touwys gemaak in trofeeslag, brandbeheer, chemiese onkruidbeheer, gasvryheids-bediening en voedselvoorbereiding. Die werkers kon twee van die onderwerpe kies. Die kursusse is op rotasiebasis aangebied om die sowat 400 mense te akkommodeer.

Instrukteurs van twee plaaslike instansies het ’n praktiese kursus in trofeeslag aangebied. Willem van Deventer van Bosveld Jagters- en Bewaringsvereniging (BJV) en Paul Els en Charles Moshokwa van Nylstroom Taksidermie het baie moeite gedoen om dié kursus interessant aan te bied. Die demonstrasie en kursusmateriaal het volledige riglyne bevat oor hoe om ’n skouermontering én ’n vol montering van ’n trofeëdier af te slag. Lede van die WRSA het twee rooibokke vir skouermontering en twee vlakvarke vir vol montering verskaf.

’n Aantal skaapkoppe is deur slaghuise voorsien en slagmesse is beskikbaar gestel sodat elke werker die kans kon kry om onder leiding en toesig te probeer trofeeslag.

Volgens Van Deventer het slegs enkele van die werkers al vantevore trofeëdiere geslag en hulle het die demonstrasie baie interessant gevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button