CrimeNews

Verdagtes gaan hul lot in Polokwane hoor

Die lot van die verdagtes wat aangekla word van die moord en roof op Cecil (83) en Pattie (73) Peterson van Bela-Bela, sal na verwagting in April in die Hooggeregshof in Polokwane bekend gemaak word.

Die Peterson-egpaar is in September 2017 op hulle plaas, TNT Trading, tussen Bela-Bela en Modimolle aangeval. Pattie is in die maag geskiet en is destyds op die toneel oorlede. Cecil is in die gesig geskiet en is ses weke ná die aanval in ’n hospitaal in Pretoria oorlede.

Die polisie, in samewerking met lede van die Heritage Protection Group (HPG), het Piet Mathebula, Mpho Nico Nkonyana, Tshepo Tebula, Lucas Masingi en Thato Surprise Maringa kort ná die voorval in Hammanskraal in hegtenis geneem.

Die verdagtes het vroeër in die Bela-Bela-landdroshof op aanklagte van moord, aanranding, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie verskyn.

Nkonyana verskyn op ’n bykomende klag vir die besit van ’n gesteelde selfoon wat aan een van die plaaswerkers van TNT Trading behoort het, is vroeër in die hof gesê.

Maringa was uit op borgtog ten tyde van die roof op die Peterson-egpaar en het ander hangende sake van moord, roof, huisbraak en die besit van ’n gesteelde voertuig teen hom.

Kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, het vroeër in die hof getuig dat die beskuldigdes voor die roof slegs met Maringa in gesprek was, maar nie met mekaar nie.

Met die verloop van tyd het nuwe getuienis in die saak opgeduik en Masingi is vrygespreek, het Schutte gesê.

Die ander vier verdagtes, wat van 4 tot 15 Maart in die rondgaande Hooggeregshof in Lephalale verskyn het, se hofsaak is ná 14 dae oorgeplaas na die Hooggeregshof in Polokwane vir vonnisoplegging.

Hulle verskyn weer op Vrydag 12 April in die hof.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button