Die Nylstroom-rugbyklub het tydens die afgelope “Grizzlies Rugby Wars”-toernooi in Pretoria as die wenners van die Carlton C-afdeling uitgetree. Jannie Venter, klubpre-sident, het gesê dié toernooi wat oor vier weke plaasgevind het, het sterk spanne soos Tuks- en Naka Bloubulspanne ingesluit. Die Nylstroom-klub het nie net ’n trofee ontvang nie, maar ook welkome prysgeld. Op die foto is die span ná hulle sege.
Sandra Erasmus, oudleerder van Hoërskool Warmbad, het op Saterdag 16 Maart aan die Gauteng Japan Karate Association (JKA) se kampioenskap deelgeneem. Sy is ingesluit in die Gauteng senior vrouespan wat op Saterdag 25 Mei aan die nasionale kampioenskap deelneem. Erasmus sal in kata en kumite meeding om ’n plek in die nasionale span. Op die foto is Erasmus (links) saam met spanmaats Sandy Oosthuizen en Savannah Hauser.
Hoërskool Warmbad se seunshokkiespan het die afgelope vakansie vir vier dae aan die Netstar-hokkietoernooi by Hoërskool Garsfontein deelgeneem. Die Warries het puik spel gelewer en twee van hul wedstryde oortuigend gewen. In ’n derde wedstryd het hulle gelykop gespeel. Twee van die spelers, Matthew McGuire en David Schabort, is na afloop van die toernooi vir die “All star”-span gekies. David is ook as doelwagter van die toernooi aangewys. Saam met die span is hul afrigter, Van Reenen Cloete.
Leerders van Laerskool Warmbad het op Saterdag 9 Maart aan die Limpopo JKA-karatekampioenskap in Polokwane deelgeneem en puik presteer. Dié leerders is ook gekies vir die Limpopo-span wat in Mei aan die nasionale Suid-Afrikaanse JKA-kampioenskap in Ellispark, Johannesburg, gaan deelneem. Op die foto is Naledi Mogana, Jake Monulu en Thuto Mantji. Agter is Paige Cronjé, MJ van Blerk, Valerie Monulu en Dean Roux.