Local sportSport

Hansieweek is weer skitterend

Die jaarlikse Hansie-rugbyweek by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het weer dié vakansie vir kookwaterskolerugby gesorg. Herman Steyn van Die Pos was daar om al die aksie op film vas te lê.

Die bekende Mauritz Hansen-skole-rugbyweek, ook bekend as die Hansieweek, het op Maandag 25 Maart vir die 27ste keer by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong afgeskop.

Spikkels De Wet, waarnemende hoof van Hoërskool Hans Strijdom, Bakkies Botha, gasspreker by die opening van die Hansieweek, en Mauritz Hansen, oudhoof van die skool na wie dié bekende rugbyweek vernoem is.

 

Die reënerige weer het spanne vanjaar genoop om tydens die amptelike opening op Dinsdag 26 Maart op die paviljoen te sit terwyl die jaarlikse skouspelagtige opmars van die spanne nie kon plaasvind nie.


Sien ook Hansieweek 2019


Spikkels de Wet, waarnemende hoof van Hoërskool Hans Strijdom, het die rugbyspelers verwelkom en ds. Louis Pretorius van die Nederduits Gereformeerde Kerk in die dorp het die rugbyweek met skriflesing en gebed geopen. Robert Gower, beheerliggaamvoorsitter, het die gasspreker by die geleentheid, die bekende oud-Springbokrugbyspeler Bakkies Botha voorgestel.

Die jaarlikse Hansie-rugbyweek by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het weer dié vakansie vir kookwater-skolerugy gesorg. Alex Wessels van Hoërskool Hans Strijdom veg hier verbete om besit van die bal. Dié kranige eerstespanspeler het gewys dat die Hansies ’n wenspan is. Hul eindtelling teen Hoërskool Morgenson was 41-0. Foto: Herman Steyn

 

Ricardo Visser van die Hansies se o.15-span het ’n pragdrie in die finale wedstryd tydens die Hansieweek gedruk. Hulle het Hoërskool Witteberg met 17-14 geklop.

 

Hoërskool Hans Strijdom se tweede rugbyspan het in die finaal van die Hansieweek teen Hoërskool Witteberg te staan gekom. Jandré van Niekerk het uitstekende spel gelewer en sy teenstanders uitoorlê.

 

Botha het op sy kenmerkende gemaklike manier met die 86 spanne se rugbyspelers gepraat en hulle aangespoor om elke geleentheid wat oor hul pad kom, te gebruik. “Maak nie saak wie jy is of wat jy in die lewe bereik het nie, wat wel saak maak, is jou menswees en hoe jy ’n verskil kan maak,” het Botha gesê.

Botha het gesê sy lewensuitkyk is gebaseer op drome, doelwitte en dissipline en dat hierdie waardes vir elkeen belangrik behoort te wees.

Die opening is afgesluit met ’n wedstryd tussen die eerste spanne van Hans Strijdom en Hoërskool Tuine van Pretoria. Die twee spanne het gelykop gespeel en vir uitstekende spel gesorg. Die res van die week is gekenmerk deur hoogstaande rugby. De Wet het die spelers geprys vir die manier waarop rugby gespeel is en hulle geloof vir hul goeie gedrag op die veld en op die terrein.

Hy het ook al die borge, personeel en ouers van die Hansies bedank vir hul harde werk om die Hansieweek weer ’n sukses te maak.

Drie van die Hansiespelers, Tristan Snyman, Ruan Robberts en Nieard Rietchard, is gekies vir die toerspan later vanjaar na Ierland.

Related Articles

Back to top button