Local sportSport

Dié twee atlete skrik nie vir die ouderdom

Twee uithaleratlete van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle het die afgelope naweek goed presteer tydens die Gauteng-Noord-meestersatletiekkampioenskap.

Babsie Grobler (75) en Anette van Dyk (64) het hul mededingers gewys waar Dawid die spreekwoordelike wortels gegrawe het.

Nie net het dié twee medaljes verwerf nie, maar ook gekwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse-meestersatletiekkampioenskap wat in Mei in Oudtshoorn plaasvind deel te neem.
Die meestersatletiekkampioenskap is vir atlete wat 35 en ouer is.

Van Dyk het tydens die byeen-koms, wat op Saterdag 30 Maart op die bekende Pilditch-stadion in Pretoria plaasgevind het, goue medaljes vir werpskyf en spiesgooi verwerf in die kategorie vir atlete tussen die ouderdom 60 en 65.

Sy het ook ’n nuwe rekord vir spiesgooi opgestel en ’n silwer medalje vir gewigstoot verower.

Sy het verlede jaar ook tydens dié byeenkoms uitgeblink.

Grobler het ’n goue medalje in werpskyf in die ouderdomsklas van 75 tot 80 jaar behaal en silwer medaljes vir gewigstoot en spiesgooi verwerf.

Albei vroue het ’n jarelange liefde vir sport en het nie ouderdom in die pad laat staan van hul deelname nie.

Grobler het in 2011 aan die wêreldkampioenskap vir lyndans in Nashville in Amerika deelgeneem en in die meestersatletiek se 100 m- en 200 m-naelope.

Sy het ook op 45-jarige ouderdom Suid-Wes Afrika-kleure vir atletiek verwerf en daardie jaar ’n silwer medalje op die Suid-Afrikaanse Spele in Germiston verwerf.

“Sport is ’n groot liefde vir my en my dogters, Amanda Scheepers en Madelein Minnaar,” het dié fikse pensioentrekker gesê.

Van Dyk se groot liefde is hard-loop en sy het al 14 keer aan die moordende Comrades-marathon deelgeneem en ses keer aan die Argus-fietsren.

Sy het ook verskeie kere aan die Midmarmyl en Potchmyl deelgeneem, asook aan tweekamp- en driekampbyeenkomste.

Grobler en Van Dyk oefen soggens by Hoërskool Nylstroom se atletiekbaan.

Hulle nooi ander belangstellende atlete om hulle te kontak.

“Dit sal lekker wees as ons ’n groep atlete is wat deelneem,” het Grobler gesê.

Bel haar by tel. 072 444 3455.

Related Articles

Back to top button