Local sportSport

Hansies se hokkiebokkies toer

Die o.16A-hokkiespan van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het ’n baie geslaagde toer onderneem na die bekende Sportweni-sportskool in Port Shepstone, Kwa-Zulu Natal.

Die meisies is vergesel van hul afrigters, Carina Swanepoel en Juanita van Heerden, en het op Donderdag 21 Maart vertrek. Die kliniek het tot Dinsdag 26 Maart geduur.

Die Hansies het al vier hul oefenwedstryde gewen. Op die eerste dag het hulle die spanne van Stoffberg met 3-1 gewen en Wagpos met 4-0. Die tweede dag het hulle nog ’n span van Wagpos met 5-2 geklop en later die dag vir ’n tweede keer met 3-1.

Volgens Marita Louw, onderwyser van die Hansies wat die span vergesel het, was die afrigting van hoë gehalte en sal sy dit beslis aanbeveel vir ander spanne wat dit in die toekoms oorweeg.

“Dit was nie net ’n kliniek en toernooi nie. Al die wedstryde was vriendskaplik en tegniekafrigting is tydens die oefening behartig,” het sy gesê.

Die spelers het hul verblyf in die Capenta Bay Hotel op die strand baie geniet.

Die bekende broers Kirk en Colin Mendoza van Gauteng, wat gerekende spelers is en ook al by verskeie internasionale wedstryde as skeidsregters opgetree, was van die afrigters. Ander afrigters wat ewe bekend is, was Jordan en Taylor Schurmann wat kookwater provinsiale hokkie gespeel het en JP Olivier wat tans ’n provinsiale vrouespan afrig. Die Schurmann-susters speel tans vir die span van die Universiteit van Pretoria (Tuks).

Pieter van Zyl, rugbyafrigter en onderwyser van die Hansies, het gesorg dat die Hansies se hokkiebokkies veilig gereis het en sê dit was ’n voorreg om saam met hierdie groep jongmense te toer. Louw het ook haar dank uitgespreek teenoor al die borge wat die toer moontlik gemaak het.

Related Articles

Back to top button