
“Ek kon nie wag vir daardie eerste warm vetkoek, vars uit die olie, wat die kombuis met die lekkerste geure gevul het. Daardie eiesoortige reuk en smaak sal vir altyd deel van my bly.” het sy gesê.

“Ek is lief daarvoor om mense te bederf met lekker kos en dit is my passie om gesonde, keurige en bekostigbare voorbereide etes aan mense te lewer.”
Sy het haar veelsydige vetkoekresep met Die Pos gedeel.
Bestanddele:
- 5 koppies koekmeel
- 1 pakkie kitsgis (10 g)
- 2½ teelepel sout
- 2 koppies lou water (kan meer of minder ook wees)
- 3 teelepels botter
- Olie vir bak van die vetkoek
Metode:
- Plaas al die droë bestanddele in ’n mengbak en roer. Gooi die water by en werk die mengsel met die hand deur. Dit is nie nodig om met albei hande te knie nie.
- Smeer die bak se oppervlak met die botter dat die deeg nie aan die bak vasklou nie. Dit is ’n lekker, sagte deegmengsel wat vorm. Bedek die bak met kleefplastiek en plaas op ’n warm plek om tot dubbel die volume te rys.
- Smeer ’n werksoppervlak met olie. Keer die deeg om en druk met die plathand plat en laat vir ’n verdere halfuur rys.
- Druk of sny die grootte uit die deeg wat verlang word en bak in warm middelmatige diep olie tot goudbruin. Haal uit en sit op druppapier neer.
- Vetkoek kan met verskeie vulsels bedien word, maar die lekkerste is vars uit die olie met ’n lekker koppie boeretroos.



