Local newsNews

Christo se plek in slaghuis leeg

“Hy was lief vir mense, het altyd goeie diens by die slaghuis gelewer en sou letterlik sy laaste sent aan ’n persoon wat dit nodig gehad het, gegee het.”

Die familie van Christo Maartens (63) van Bela-Bela is nog besig om tot verhaal te kom ná sy skielike dood in KwaZulu Natal.

Maartens was ’n gesinsman by uitstek en sy familie koester talle goeie herinneringe van hom.

Maartens, wat vir 25 jaar die bestuurder van Unie-slaghuis in die dorp was, is op Sondag 17 Maart aan ’n hartaanval oorlede nadat hy en sy gesin vir ’n weeklange vakansie in Uvongo was.

Volgens sy vrou, Netta, het hy daarop aangedring om sy gesin met vakansie te neem al was sy gesondheid nie goed nie.

Haar man het asemnood ondervind en is na ’n plaaslike hospitaal, waarna hy oor-geplaas is na ’n hospitaal in Port Shep-stone. Hy is kort daarna oorlede.

Maartens het in die Newcastle-omgewing grootgeword en ná skool by die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk. Hy het eers later in die vleisbedryf beland.

Hy en Netta is in 1975 in Witbank getroud en het vier kinders gehad. Die gesin het eers in Sasolburg en Amersfoort gewoon, maar het in 1989 na Bela-Bela verhuis waarna hy by Ben Cohen begin werk het.

“Hy was lief vir mense, het altyd goeie diens by die slaghuis gelewer en sou letterlik sy laaste sent aan ’n persoon wat dit nodig gehad het, gegee het,” het Netta gesê. “Ons almal gaan hom baie mis.”

Een van sy groot liefdes was sy plaas en sy beeste in die Noodhulp-omgewing, het sy gesê.

Maartens sou op Woensdag 3 April sy 64ste verjaardag gevier het.

Sy roudiens het reeds op Woensdag 27 Maart vanuit die NG Warmbad Wes-gemeente in die dorp plaasgevind.

Hy laat sy vrou en vier kinders agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button