CrimeNews

Misdaad in hoofstraat neem af

Die misdaadfront is hopelik aansienlik stiller in Bela-Bela se sentrale sakesektor nadat ’n veroordeelde inbreker agter tralies beland het.

Katlego Simon Motawane (38) is in Maart deur die polisie aangekeer nadat hy by ’n paar voertuie in die dorp ingebreek en items gesteel het.

Die Bela-Bela-landdroshof het hom op Dinsdag 26 Maart vir drie jaar tronk toe gestuur.

Kol. Abel Phetla, waarnemende stasiebevelvoerder, het gesê verwante misdade is aansienlik minder sedert Motawane in hegtenis geneem is.

* Sake-eienaars in Bela-Bela sal twee keer moet kyk wanneer kliënte items by hulle koop of ’n rekening vereffen. Die Bela-Bela-polisie het op Dinsdag 26 Maart ’n vrou by Shoprite in hegtenis geneem nadat sy met vermoedelik vervalste banknote betrap is. Die vrou is met vier R100-note in haar besit betrap.

Sy sou na verwagting vroeg dié week reeds in die Bela-Bela-landdroshof verskyn het, maar teen druktyd was daar nog geen rekord by die hof dat sy wel verskyn het nie.

  • ’n Voorheen veroordeelde dief is terug in die Bela-Bela-landdroshof nadat hy glo groot kopsere vir boere in die Springbokvlakte-omgewing veroorsaak het. Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie het Khazamula Chauke (46) reeds drie jaar tronkstraf uitgedien vir verwante oortredings en het ná sy vrylating teruggekeer na sy ou weë. Hy is op Vrydag 22 Maart in hegtenis geneem nadat hy na bewering kabels op die grond van ’n boer in die Springbokvlakte-omgewing probeer steel het. Chauke het op Maandag 25 Maart in die hof verskyn op aanklag van diefstal. Hy word ook daarvan aangekla dat hy onwettig in die land is. Hy is oorspronklik van Zimbabwe. Sy saak is uitgestel na Dinsdag 9 April vir verdere ondersoek. Hy is steeds in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button