
Die EFF se raadslede het nie die vergadering bygewoon nie.
Marlene van Staden, burgemeester, het in haar verslag beoogde verhogings in munisipale tariewe met raadslede bespreek. Een van dié verhogings was die 15,63% verhoging in die elektrisiteitstarief wat deur die energiereguleerder Nersa goedgekeur is. Die uiteindelike tarief behoort egter hoër te wees aangesien die verkope van elektrisiteit een van munisipaliteite se belangrikste bronne van inkomste is.
Volgens Van Staden kan die munisipaliteit soortgelyke verhogings in die komende paar jaar verwag. Die verhoging in tariewe vir eiendomsbelasting, water, riool, dorpsbeplanning en begraafplase is genoem. Van Staden het haar kommer uitgespreek oor die impak wat die verhogings op inwoners kan hê.
Volgens Van Staden is ’n R40 miljoen-toelae vir waterprojekte van die munisipaliteit onttrek weens wanbesteding in die 2017/2018-boekjaar. Die munisipaliteit se projekte sal deur ’n ander staatsinstansie wat nog aangewys moet word, geïmplementeer word.
“Ons is afgegradeer na ’n 6B-munisipaliteit wat beteken dat ons nie meer ons eie waterprojekte sal kan implementeer nie. Dit is ’n verlies vir ons munisipaliteit omdat dié geld uit ons begroting kom.”
Die munisipaliteit het verder pakslae gekry oor vermiste geld nadat hulle ’n R30 miljoen billike toedelingtoelaag kwyt is.
Raadslede het die voorlopige begroting goedgekeur en verskeie van die voorstelle wat gemaak is, is aanvaar. Dit sluit in dat ’n afvaardiging na Nersa gestuur sal word om ’n beter elektrisiteitstarief te beding, ’n nuwe studie gedoen word oor die doeltreffendheid van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters en meetbare doelwitte vir werksprestasie vir werknemers.
’n Verslag deur die munisipale openbare rekeninge komitee (MPAC) is terugverwys omdat dit onvolledig is. Een van die redes wat verskaf is, is dat slegs twee van die vyf senior bestuurders die vergaderings bygewoon het.
Die raad het ten gunste van die aanvaarding van ’n dokument oor die afskryf van skuld deur behoeftige inwoners gestem. Raadslid Thinus Botha van die Vryheidsfront Plus het egter te velde getrek en gesê dat van die bedrae op die dokument buitensporig hoog is en nie klop nie.



