Prestasietoekennings vir polisielede
Die helde wat stil en ongesiens hul gemeenskappe veilig hou, het verlede week erkenning gekry vir hul toegewydheid.
Die polisie se Modimolle-kring het op Woensdag 27 Maart ’n prestasie-toekenningsaand by die Weesgerus-vakansieoord gehou. Die glansgeleentheid was die eerste van sy soort vir die kring.
’n Uitgelese lys gaste het die aand bygewoon, onder andere genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende provinsiale kommissaris van die polisie in Limpopo, genl.maj. Christine Moralakadi, assistent-kommissaris van menslike hulpbronne bestuur, France Kgasago, provinsiale gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se voorsitter, Mokone du Preez, GPF-voorsitter vir die Modimolle-kring en Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.

Die geleentheid is die breinkind van brig. Annalene Steyn, kringbevelvoerder, wat wou seker maak dat harde werkers in die polisiediens erkenning kry vir hul toege-wyde diens aan die gemeenskap.
Die polisiestasies van Vaalwater, Roedtan, Rankinspas, Mookgophong en Modimolle val in die kring.
Om te bepaal wie beloon moet word, is daar na verskeie kategorieë gekyk, soos na die beeld van die polisie wat die lede na die gemeenskap uitstraal, hul werksvermoë en suksesse, asook hul samewerking in groepsverband.
Steyn het die geleentheid geopen en lede tot groter hoogtes aangespoor.
Die administratiewe beampte van die jaar (salarisvlak 1-7) is Lizelle Steenkamp van die Mookgophong-polisiestasie, die administratiewe beampte van die jaar (salarisvlak 8-12) is kapt. Andries Cronjé van die Modimolle-kring-polisie, die administratiewe groep van die jaar is die lede wat werwing doen in die Modimolle-kring en die visuele polisiëring (Vispol) lid van die jaar (salarisvlak 1-7) is sers. Mmathoto Monyela van die Modimolle-polisie. Die Vispol-lid van die jaar (salarisvlak 8-12) is kapt. Michael Motadi van die Modimolle-polisie, die Vispol-groep van die jaar is die Modimolle-misdaadbekampingsgroep en die speurder van die jaar (salarisvlak 1-7) is sers. Amanda Rossouw van die Modimolle-speurtak. Die speurder van die jaar (salarisvlak 8-12) is kapt. Pierré Nel van die Modimolle-speurtak, die speurdergroep van die jaar is die Modimolle-speurtak (eiendomsmisdaad) en die gestremde lid van die jaar is AO Zelda Coetzee van die Modimolle-kring.
Die reservis van die jaar is kapt. Joey Bouwer van die Modimolle-polisie. Mookgophong se GPF is aangewys as die GPF-groep van die jaar en die Rankinspas-polisiestasie is aangewys as die polisie-stasie van die jaar. Kol. Loekie Harmse het die toekenning ontvang vir beste stasiekommissaris van die jaar en Mokone du Preez van Mookgophong het die spesiale toekenning as ’n lid van die gemeenskap ontvang.



