’n Jarelange inwoner van Bela-Bela, Joan Griessel, was op Saterdag 23 Maart verras toe Tinus Ras, DA-raadslid, haar ingelig het dat ’n groep mense besig is om ’n stuk grond op haar eiendom skoon te maak.

Haar eiendom grens aan Spa Park en die Koppewaai-nedersetting wat inwoners geruime tyd die harnas in het weens die aanhoudende rusverstoring.
Die onbekende groep betreders van omtrent 20 het volgens die Bela-Bela-polisie ’n stuk van Griessel se eiendom aan hulself toegeëien.
Die polisie, AfriForum en die RSRT-buurtwag het gou opgetree en ’n saak van betreding is geopen. Sedertdien het die groep van die perseel onttrek.
Janes Boshoff, AfriForum-takvoorsitter in Bela-Bela, het aan Die Pos gesê grondeienaars loop die gevaar dat hulle slagoffers van grondgrype kan word.
Bejaarde grondeienaars moet veral die nodige ondersteuning kry, het hy gesê.
“Indien die polisie nie betyds optree nie, kan die AfriForum-buurtwag (RSRT) intree. Die regte prosedure is egter om eers die polisie te kontak sodat ’n saak geregistreer kan word,” het Boshoff gesê. “AfriForum-lede geniet meer ondersteuning indien hulle as lede geregistreer is.”
Niemand is in hegtenis geneem weens die betreding op Griessel se eiendom nie. Dit is ook onduidelik wie die betreding aangemoedig het.
Griessel het by navraag gesê sy is nie baie bekommerd nie.
“Ek is kalm oor alles wat gebeur het en vertrou dat almal wat bystand gebied het, die saak verder sal hanteer,” het sy gesê.
Griessel sê sy het gerugte gehoor van ’n groep inwoners van Spa Park wat sedertdien ook vir haar ingetree het en wil verhoed dat die betreders weer haar grond beset.
Die polisie ondersoek die saak verder.
AfriForum is van mening dat eiendomsreg die hoeksteen is van ’n bestendige sosiale, ekonomiese en politieke omgewing.
AfriForum het die volgende wenke aan Die Pos uitgereik oor wat grondeienaars behoort te doen wanneer hul eiendom in gedrang is:
- Wees altyd bewus wat op die eiendom aangaan. Ry gereeld rond en let op vir vreemde strukture of mense.
- Indien daar plaaswerkers op die grond woon, weet wie is deel van die huishouding en enige vreemde mense wat bykomend tot plaaswerkergesinne is. Hou rekord van verdagte mense of voertuie en stel buurtwagte in kennis om konflik te vermy.
- Pas streng toegangsbeheer toe en moenie toelaat dat vreemde mense die grond as ’n deurpad gebruik nie.
- Bou ’n goeie verhouding met die polisie, bure en skakel in by die buurtwagte of gemeenskappolisiëringsforum (GPF).
Skakel ook in by AfriForum se veiligheidsinisiatiewe. - Moet nooit verkondig wanneer die grondeienaar uitstedig is nie. Stel die buurtwagte in kennis indien grondeienaars vir lang tye weg is.
- Moenie huiwer om ’n klagte by die polisie teen betreders te lê nie.
- Vra vir ’n bewys van ontvangs nadat die saak gerapporteer is, asook die beampte wat die verklaring geneem het se rang, naam, van en magsnommer. Enige betreder moet in hegtenis geneem word.
- Alle vorme van kommunikasie moet verkieslik ook op skrif wees sodat gesprekke nie ontken kan word nie.
- Dit kan raadsaam wees om ’n hofinterdik te probeer verkry voordat die betreders verder optree.
- Sluit alle hekke op die perseel en neem foto’s van die slotte.



