MunicipalNews

Waar’s ons water? vra inwoners

Die krane in Modimolle is steeds elke tweede dag droog en ontstellende klagtes dat die wa-terrantsoeneringskedule onbetroubaar is, klink weekliks op.

Die deurnagkragonderbreking van Dinsdag 2 Maart het glo ’n verdere impak op watervoorsiening gehad omdat geeneen van die waterpompe in die dorp kon werk nie.

“Ná herhaalde navrae het ons nog nie oortuigende antwoorde ontvang oor wat die oponthoud met die watervoorsiening is nie. Ek lig die gemeenskap in sodra ons antwoorde hierop kry,” het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, by navraag gesê.

Die span by die dam werk glo tans in drie skofte van agt uur elk en drie miljoen liter water word per dag gepomp.

“Volgens Thabang Selemela, afdelingshoof van waterdienste, is die reservoirs se vlakke reeds baie hoër,” het sy gesê.

Die silwer randjie om die donker wolk is dat Van Staden die afgelope week aangekondig het dat die munisipaliteit ’n infrastruktuurtoelaag van R25 miljoen vir waterdienste ontvang het.

Dit sal aangewend word vir die voltooiing van vyf belangrike water- en rioolinfrastruktuurprojekte.

“Die voltooiing van hierdie projekte sal ’n positiewe uitwerking op dienslewering hê en sal van die rioolprobleme wat onlangs in Modimolle belig is verlig.

Die besteding van die toelae en die bestuur van die projekte sal gedoen word onder die leierskap van die administrateur, Mapule Makoko, met oorsig van die raad.” Volgens Van Staden sou die munisipaliteit aanvanklik vanjaar geen infrastruktuurtoelae ontvang het nie weens wanbesteding in die vorige boekjaar.

“Ná onderhandelinge kon ons die nasionale tesourie oorreed om ’n forensiese ondersoek na wanbesteding by die munisipaliteit te loods. As gevolg hiervan het die provinsiale regering ingestem om fondse toe te ken sodat sekere projekte voltooi kan word,” het Van Staden gesê.

Die munisipale raad het in Januarie die voltooiing van verskeie projekte goedgekeur sodra fondse beskikbaar raak.

Dit sluit in die opknapping van die Modimolle-rioolaanleg, die opgradering van die riool-uitlaatpyp in Modimolle, die opknapping van die Mookgophong-rioolaanleg, die rehabilitasie van die Frikkie Geyserdam in Mookgophong, die vervanging van ’n 7 km asbespyplyn en die herstel van sypaadjies.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button