Geregtigheid het geskied vir Cecil en Pattie Peterson, ’n bejaarde egpaar wat in September 2017 op hulle plaas TNT Trading tussen Bela-Bela en Modimolle, vermoor is.
Al vier die mans wat van die moord aangekla is, is die afgelope week tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Pattie is die noodlottige oggend in die maag geskiet en is op die toneel dood. Cecil is in die gesig geskiet en is ’n paar weke later in ’n Pretoriase hospitaal dood.
Die polisie, in samewerking met die Heritage Protection Group (HPG), het die vier verdagtes, Piet Boitumelo Mathebula (32), Mpho Nico Nkonyana (22), Tshepo Tebula (37) en Thato George Maringa (31), kort na die voorval in Hammanskraal in hegtenis geneem.



Die vier is uiteindelik op Vrydag 12 April in die Polokwane-hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Die vier is skuldig bevind op twee aanklagte van moord, asook roof met verswarende omstandighede, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die besit van onwettige ammunisie.
Hulle is elk gevonnis tot 50 jaar tronkstraf op die twee moordklagtes, 15 jaar vir roof, twee jaar vir die vuurwapenklagte en twee jaar vir die ammunisieklagte.
Die hof het voorts beslis dat die vonnisse (69 jaar elk) samelopend uitgedien moet word.
HPG het in ’n Facebook-plasing elkeen wat destydse tot die vier se inhegtenisname en die suksesvolle vonnisoplegging bygedra het, bedank. Veral kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, is uitgesonder as iemand wat ’n sleutelrol in die suksesvolle vonnisoplegging gespeel het.



