
Bedrieërs het al weer ’n nuwe modus operandi om onskuldige slagoffers se geld in die hande te probeer kry.
Kapt. Annemarie Smith, waarnemende speurtakhoof by die Bela-Bela-polisie, het aan Die Pos gesê die polisie is bewus van ’n paar gevalle waar klaers wat klagtes by verskeie polisiestasies gelê het, agterna bedrieg is.
Volgens Smith word die klaers in die sake gekontak en doen die boewe hulself as polisiebeamptes voor. Hulle dring dan aan op geld vir kastige insleep-, skut- of stoorkoste. Veediefstal- en gesteelde voertuigsake is veral ’n gunsteling vir die boosdoeners.
Die verdagtes oortuig die klaers dat hulle hul gesteelde voertuie of vee kan terugkry sodra sekere oorbetalings gemaak word, het Smith gesê.
“Dit is absolute bog, want die polisie sal niemand vir sulke koste vra nie,” het sy gesê.
Die uitsondering is wanneer vee wettig geskut word en die skut daarop geregtig is om die vee te verkoop indien die eienaar nie na vore kom nie. Vee-eienaars kan ook skutkoste betaal wanneer hy of sy hul vee gaan uitken, het sy gesê.
Smith sê daar was ook onlangs ’n geval waar ’n klaer se voertuig gesteel is. “Die man het ’n SMS ontvang wat lui dat hy geld in ’n rekening moet deponeer indien hy die voertuig wil terugkry. Hy het egter snuf in die neus gekry en die polisiestasie gekontak waar vasgestel is dat sy voertuig nooit opgespoor is nie.”
Smith vermoed die bedrieërs het toegang tot ondersoekverslae by die polisie bekom en op dié wyse klaers se persoonlike inligting bekom.
Die verdagtes doen hulself gewoonlik voor as beamptes met ’n hoë rang, het sy gesê.
“Indien polisiebeamptes inligting wederregtelik aan booswigte laat uilek, kan hulle van korrupsie en die verdagtes van bedrog aangekla word,” het Smith gesê.
“Klaers ontvang saaknommers en daar word vir hulle gesê wie die ondersoekbeampte van hul sake is. Slegs die ondersoekbeampte in sake is veronderstel om direk met klaers in verbinding te tree oor die ondersoeke.”
- Smith raai mense aan om enige verdagte boodskappe by hul naaste polisiestasie aan te meld.



