Sy is ’n gr. 2-leerder aan Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong en ’n kranige redenaar. Sy was die wenner in die kategorie gr. 1-3 in haar skool en het op Vrydag 12 April by Hoërskool Hans Strijdom aan die ATKV-suidstreek- uitdunne deelgeneem, waar sy ook deurgedring het na die volgende ronde op Vrydag 24 Mei.
Wat Sibella se prestasie merkwaardig maak, is dat sy met ’n bilaterale gesplete lip gebore is. Volgens haar ma, Juanita van Heerden, was haar neusie plat met geboorte, haar kleintongetjie gesplete en haar lippie oop. Omdat hulle nie voor haar geboorte bewus was van die toestand nie, het hulle eers by haar geboorte besef dat daar vir hulle ’n stywe opdraande wag.
Sibella kon nie uit ’n gewone bababottel drink nie en moes ’n spesiale bottel gebruik. Op vyf maande moes sy ’n drie uur lange operasie ondergaan en op ses maande moes sy met ’n spesiale bekertjie begin drink.
Die operasies is uitgevoer deur prof. Kurt W. Bütow, wat die “Facial Cleft Deformity Clinic” van die Universiteit van Pretoria in 1983 geopen het. Dié kliniek hou kontak met hul pasiënte en elke jaar gedurende Oktober kom die kinders wat met die defek gebore is en hul ouers in Pretoria byeen om hul vordering te vier.
“Toe Sibella begin praat het, het ek elke week Bela-Bela en Modimolle toe gery vir spraakterapie,” vertel haar ma.
Sibella moes weer in haar gr. R-jaar ’n groot operasie ondergaan om haar gesplete kleintongetjie te herstel sodat haar spraak kon verbeter.
“Ons moes haar elke keer die woorde wat sy onduidelik en nasaal uitgespreek het, laat herhaal,” het Van Heerden gesê.
Sibella het al in gr. RR begin deelneem aan kunstefeeste en het nog nie weer teruggekyk nie.
“Ek wil vir ander ouers sê dat dié toestand nie die einde van die wêreld is nie. Gee net jou samewerking aan die dokters en onthou: aanhouer wen,” het Van Heerden gesê.
Sibella sê dat sy nog lank nie klaar is met praat nie. Sy geniet dit om deel te neem aan redenaarskompetisies en kunswedstryde.



