MunicipalNews

Inwoners kla oor munisipale diens

Tientalle inwoners het vandeesweek hul kommer uitgespreek tydens ’n vergadering om die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit te bespreek.

Sarna Groenewald, wyksraadslid vir Wyk 12, en Marlene van Staden, burgemeester, het tydens die vergadering inwoners se vrae beantwoord en die beplande verhogings in tariewe bespreek. Die begroting is nog nie afgehandel nie.

Volgens Van Staden sal woonhuise se eiendomsbelasting na verwagting met ’n inflasieverwante 6% styg met verskeie rabatte wat toegeken word. Een van dié rabatte is vir kleinhoewes wat nie vir landboudoeleindes gebruik word nie, maar as woonplek.

Die voorgestelde verhoging in die watertarief is 9,96% en die energiereguleerder, Nersa, het ’n 15,63% styging in die kragtarief goedgekeur. Volgens Van Staden neem dit egter nog nie salarisse en ander uitgawes van die munisipaliteit in ag nie. Direkte Eskom-kliënte kyk na ’n 13,87% verhoging. Die munisipaliteit het reeds aansoek gedoen om afslag. Ander munisipale dienste se tariewe kan moontlik met 6% styg.

“Sodra ons sekerheid het oor die styging in elektrisiteit, kan ons daarna kyk om ander tariewe te verminder om daardie verhoging vir inwoners te verlig,” het sy gesê.

Van Staden het gesê die waardasierol is nog nie voltooi nie en dat die voorgestelde tariewe dalk verlaag kan word sodra dit duidelik is wat die impak van die rol op munisipale finansies is. Sowat 2 000 eiendomme wat nie voorheen op die lys was nie, is bygevoeg. Meer as 230 vertoë is reeds aan die waardeerders gerig, wat inwoners van Bosveldsig in Modimolle en Gholfpark in Mookgophong uitsluit.

Daar is ook ’n vinnige oorsig gegee oor toelae wat aan die munisipaliteit toegeken is en aan watter projekte dit bestee sal word.

Die begroting sal volgens Van Staden teen einde Mei afgehandel wees. Dorpsvergaderings sal gehou word om inwoners in te lig. Die geskatte begro-tingstekort is sowat R130 miljoen.

Magalies Water, een van die munisipaliteit se groot skuldeisers, se skuld beloop glo nog net R6 miljoen.

“Ons kontrak met Magalies Water verstryk binnekort. Ons wil dan beding vir ’n 10 jaar kontrak om hulle aan te moedig om in die munisipaliteit se infrastruktuur te belê. Hulle kenners sal eersdaags aan die raad kom verduidelik waar die haakplekke lê hoekom hulle nie hul volle kwota water aan die dorpe kan verskaf nie,” het sy gesê.

Die uitstaande skuld aan die departement van verkeer is van R15 miljoen na R3 miljoen verminder. Mookgophong skuld niks meer nie.

“Die verskoning dat daar nie papier vir lisensies is nie, is nie meer geldig nie.”

Die munisipaliteit se voorafbetaalde kragmeters sorg glo vir hoofbrekens en in plaas daarvan dat dit probleme oplos, veroorsaak dit dat die munisipaliteit geld verloor. Van Staden het gesê die munisipaliteit is in ’n hofgeding met die verskaffer, Cigicell, betrokke. Daar is reeds geadverteer vir ’n nuwe kontrakteur.

Die munisipaliteit het ook aansoek gedoen om ’n hofbevel. Daar is reeds twee keer vantevore hofbevele aan die munisipaliteit toegeken wat skuldeisers en die balju verhoed om teen die munisipaliteit op te tree. Dié hofbevel sal die munisipaliteit die geleentheid gee om skuldeisers te prioritiseer en oor 24 tot 36 maande af te betaal. Die hof het beslis dat skuldeisers geen stappe mag doen tot daar uitspraak gelewer is oor die aansoek nie.

Die inwoners se griewe het amptenare se oortydwerkery, die waterskedule, swak paaie, rioolprobleme en die tekort aan onderhoudswerk ingesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button