MunicipalNews

Bosveldstraat se inwoners nooi die burgemeester oor

Inwoners van Bosveldstraat in Vaalwater het ’n vergadering met Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, aangevra om hul kwelpunte te bespreek en op Saterdagoggend 20 April aan huis van Martie Steyl (onderwyser en oudhoof van Laerskool Vaalwater) bymekaar gekom.

Die inwoners het die toestand van paaie, spesifiek Bosveldstraat, as belangrikste besprekingspunt gestel. Die Pos het al verskeie kere in die verlede oor die verval van strate in Vaalwater berig, het Steyl gesê.

Past. Erns Redelinghuys van Vaalwater het gesê inwoners het ook ander probleme onder Van Staden se aandag gebring. Dit sluit in straatligte wat nie werk nie, vullis wat deur die beeste in Holtzhausenstraat omgedolwe word, asook water- en kragpype wat oopspoel.

“As daar nie iets aan gedoen word nie, sal die rioolpyp voor my huis ook stukkend wees,” het Redelinghuys gesê.

Redelinghuys het gevra waarom inwoners van die township water “verniet” kry terwyl die res van Vaalwater se inwoners daarvoor moet betaal. “Ek sien gereeld die tenkwa wat water na die township toe aanry,” het hy beweer.

Van Staden het aan die vergadering gesê die nodige goedkeuring vir die herstel van sekere paaie in Vaalwater is pas ontvang en daar sal eersdaags daarmee begin word.

Daar is kort ná die vergadering reeds drie hope sand in Bosveldstraat afgelaai en herstelwerk sal glo eersdaags daar afskop. Die water- en kragpyp bo in Bosveldstraat is ook reeds toegegooi, het Redelinghuys by navraag gesê.

Van Staden het ’n lys gemaak van die klagtes en voorgestel dat hulle weer oor twee weke, op Saterdag 11 Mei om 11:00, bymekaar kom om die vordering en opvolgstrategie te bespreek.

Die vergadering sal by Redelinghuys se huis in Bosveldstraat 33 in Vaalwater gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button