LettersOpinion

Dorp het ’n gunstelingseun verloor

Rus sag, Morras.

Mark Stavrakis, Bela-Bela, skryf:

Bela-Bela het ’n gunstelingseun, vriend, afrigter, mentor en familieman verloor nadat Morné Odendaal tragies op Dinsdag 30 April gesterf het.

Die prestasies wat hy in sy 30 jaar behaal het, was indrukwekkend.

Benewens ’n goeie loopbaan as tegnikus by Eskom, was dit in sport dat hy die meeste uitgeblink het.

Hy was onder meer op 25-jarige ouderdom die jongste kaptein van die Warmbad-krieketklub (Limpopo Strikers) en was baie gewild onder al die spanne in die Limpopo-liga.

Hy het goeie kapteinskap geniet en sy veldtaktieke het talle seges vir sy span verseker. Dit terwyl sy vaardigheid en kennis van die spel talle spelers geïnspireer het.

Morné het ook sy tyd onbaatsugtig gegee.

Hy het op die meeste middae die jongmense op die krieket- en rugbyvelde van sy geliefde Hoërskool Warmbad afgerig.

Dit was ook danksy sy talent as afrigter en mentor dat hy in 2018 die Limpopo o.19-krieketspan tot hul eerste toernooititel tydens die jaarlikse Bokkieweek gelei het.

Morné het in Desember 2018 die Suid-Afrikaans Bokkiespan na Sri Lanka vergesel waar die span onder moeilike omstandighede baie goed gevaar het.

Hy het baie van sy naweke op die rugbyvelde van Limpopo deurgebring en van sy tyd as skeidsregter vir klub- en skolewedstryde in die provinsie afgestaan het.

Hy was ’n geliefde en gerespekteerde man in sy gemeenskap en ’n diaken in die NG Kerk Warmbad-Wes.

Miskien is die moeilikste deel van diegene wat hom geken het, die feit dat hulle ’n vriend verloor het.

So baie inwoners praat van sy glimlag en sy vriendelike geaardheid.

Rus sag, Morras.

Related Articles

Back to top button