
Teen die tyd dat lesers hierdie hoofartikel onder oë kry, is Suid-Afrika se nasionale verkiesing iets van die verlede en het die lang proses om stemme te tel, reeds begin.
As daar nou een saak is waaroor die meeste Suid-Afrikaners te midde van die verkiesingspraatjies bekommerd was, is dit die land se ekonomie. Prof. Raymond Parsons, ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê ondervinding elders ter wêreld dui daarop dat beleidsonsekerheid juis voor ’n verkiesing toeneem en dié onsekerheid lei dan tot die verlangsaming van die ekonomie.

Dit is dus te verstane dat Suid-Afrikaners angstig is oor die verkiesingsuitslae. Almal hoop dat die ekonomie ná die verkiesing weer op dreef sal kom.
Volgens alle voorspelling sal die ANC wéér die verkiesing wen. Of dié party minder of meer stemme gaan trek as in die 2014-verkiesing, sal net die tyd leer.
Dit is egter ironies dat dit nie werklik die verkiesingsuitslae as sulks is wat die ekonomiese rigting daarna sal bepaal nie, maar wel die mandate wat uit die verkiesing sal voortspruit.
As daar nou al ooit ’n president in die geskiedenis van Suid-Afrika was wat ná ’n verkiesing soos ’n wafferse sirkusakrobaat die politieke balle in die lug sal moet hou, is dit Cyril Ramaphosa.
Hy het in aanloop tot die verkiesing tydens ANC-veldtogte hoog en laag beloof dat korrupsie in sy party uitgeroei sal word.
Indien hy sy beloftes ná die verkiesing gestand kan doen, behoort beleggersvertroue in die land dramaties te verbeter wat weer ekonomiese groei sal stimuleer sodat die staatskas uiteindelik kan verbeter.
Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom, verwag dat die plaaslike ekonomie in 2019 met sowat 1,5% kan groei, maar sy voorspelling is daarop gegrond dat die politieke omgewing meer vertroue inboesem en dat die gemoedstemming van verbruikers en die sakesektor in die tweede helfte van 2019 verbeter.
En die verbetering van die politieke omgewing hang natuurlik daarvan af of die strydende faksies in die ANC ná die verkiesing bereid is om die strydbyle neer te lê en hul gewig agter Ramaphosa te gooi.
’n Mens wil eintlik nie eens dink aan die ekonomiese implikasies indien bogenoemde nié realiseer nie.
Intussen adviseer ekonome Suid-Afrikaners om ten tyde van die politieke onsekerheid binne hul finansiële vermoëns te leef en realisties en deurdag te beplan.


