Die personeel van die winkel het die polisie ontbied nadat hulle glo net voor sluitingstyd op Dinsdag 23 April deur vyf verdagtes beroof is van selfone, kontant en horlosies ter waarde van ongeveer R76 000, het AO George Ledwaba, woordvoerder van die Mookgophong-polisie, aan Die Pos gesê.
Twee mans en ’n vrou het glo die winkel binnegekom en die vrou het haarself as ’n kliënt voorgedoen wat ’n baadjie wou aanpas. Nóg twee mans het daarna ingekom en die sleutel van die selfoonkas geëis terwyl die personeel met wapens aangehou is. Hulle het daarna die kluis se sleutel gekry en die kontant in die kluis gevat.
Volgens die polisie is daar ook verskeie selfone en horlosies uit die winkelvoorraad gebuit, asook die selfone van die personeel.
’n Op-en-wakker inwoner het kort ná die rooftog snuf in die neus gekry en die verdagtes se voertuig, ’n wit Nissan Tiida, se registrasienommer aan sers. Amanda Rossouw van die Modimolle-polisiestasie gestuur. Volgens AO James Findlay, polisie-woordvoer in Modimolle, is omliggende polisiestasies gevra om op die uitkyk te wees vir die verdagte voertuig en is die voertuig kort daarna op die N1-snelweg (rigting Pretoria) opgemerk.
Sers. Rossouw en AO. Ross Rossouw het, in samewerking met polisielede van Limpopo en Gauteng, drie van die verdagtes by die Total Petroport Panorama vasgetrek. ’n Man en vrou het weggekom, maar is volgens die polisie reeds geïdentifiseer.
Die polisie het tydens die deursoeking van die voertuig op ’n Walther 7.65-vuurwapen, 66 selfone, verskeie horlosies en klere afgekom, het Findlay gesê.
Die drie verdagtes, Hlonephani Khumbule (23), Linda Dlamini (34) en Nhanhla Ngobeni (39) van Soweto het op Maandag 29 April in die hof in Mookgophong verskyn. Die saak is uitgestel tot Maandag 6 Mei. Geen borg is toegestaan nie. Die drie word volgens die polisie ook verbind met die onlangse rooftog van Markham in Bela-Bela.
Die polisie het vasgestel dat die vuurwapen in 2017 in Fairlands, Johannesburg gesteel is, het Findlay gesê. Die ondersoek duur voort.
- In nog ’n voorval is Light Supermarket, ook in Thabo Mbekiweg in Mookgophong, ook verlede week deur vier mans en twee vroue beroof. Volgens die eienaar was hy by die kasregister toe die verdagtes die winkel betree het. Die twee vroue het na die kombuis gegaan, terwyl die mans agter die toonbank in is en kartonne met sigarette gesteel het terwyl een van hulle die eienaar met ’n mes aangehou het.Hulle het daarna saam met die vroue in ’n Quantum-taxi gespring en weggejaag. Twee van die verdagtes is egter deur die eienaar aangekeer en die polisie is ontbied. Themba Theophilus Mansha en Mbeza Wilson Moshoane het op Maandag 29 April in die hof in Mookgophong verskyn op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede. Die saak is uitgestel tot Vrydag 3 Mei wanneer die verdagtes om borgtog kan aansoek doen.



