CrimeNews

Voertuig ploeg laatnag deur kerkkantoor

Die meubels en inhoud van die kantoor is beskadig en daar was oral glasstukke. Inwoners naby die kerk was binne enkele minute op die toneel.

’n Inwoner van Modimolle wat die afgelope naweek by die Libertas-oord buite Mookgophong uitgespan het, het op Saterdagaand 4 Mei vir groot drama in die dorp gesorg.

Die man het glo by ’n restaurant in die dorp saam met sy vrou gekuier en die plek teen omstreeks 22:00 alleen verlaat. Hy het vermoedelik in Nelson Mandelalaan beheer oor sy wit Grand Cherokee Jeep verloor en deur die palissadeheining van die AGS-kerk op die hoek van 7e Straat en Nelson Mandelalaan geploeg. Die voertuig het binne-in die kerkkantoor tot ’n stilstand gekom.

’n Ooggetuie wat agter die Jeep gery het, het aan Die Pos beweer dat die voertuig heen en weer oor die straat gery het voordat dit deur die palissade geploeg het. “Dit is ’n genade dat hy die muur en aangrensende woonstelle gemis het,” het sy gesê.

Die meubels en inhoud van die kantoor is beskadig en daar was oral glasstukke. Inwoners naby die kerk was binne enkele minute op die toneel.

Volgens ’n vriendin van die familie, wat anoniem wil bly, het die man glo sy vrou by die restaurant agtergelaat nadat daar ’n argument ontstaan het.

Die man se vrou het vir die res van die naweek by haar vriendin in Mookgophong gebly totdat haar man op Maandag 6 Mei vlugtig in die hof verskyn het. Volgens AO George Ledwaba van die Mookgophong-polisie, is die saak uitgestel in afwagting op die uitslae van die bloedtoetse.

Volgens Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die GPF in die dorp, het die man hom gevloek en rondgestamp nadat hy uit die Jeep geklim het. Die man het geen beserings opgedoen nie. Van Loggerenberg het die polisie en ambulansdienste ontbied. “Hy wou niks van die ambulanspersoneel weet nie,” het Van Loggerenberg aan Die Pos gesê.

Die man is daarna in hegtenis geneem en die polisie het hom na die Voortrekker-hospitaal in Mokopane geneem vir bloedtoetse. Hy het die res van die naweek agter tralies in Mookgophong deurgebring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button