As inwoners van Bela-Bela op Sondag 19 Mei gedink het ’n vreemde vlieënde voorwerp val die lugruim binne, was hulle nie ver verkeerd nie. Jeff Provenzano, ’n lid van die Red Bull Air Force-span, het verskeie valskermspronge uitgevoer om die publiek bewus te maak van die bewaring van renosters. Provenzano, wat met ’n unieke vliegpak van verskeie hoogtes gespring en na die aarde gesweef het, het op die stel van bekende rolprente soos Iron Man 3, Godzilla en Navy Seals op die CBS-kanaal gewerk. Die naam van die plaas waar hy geland het en waar die derde grootste konsentrasie renosters op die vasteland is, word om veiligheidsredes weerhou. Foto: Verskaf
Dit gaan dreun in die Waterberge wanneer die 911 Riders-motorfietsklub Limpopo vanaf Vrydag 31 Mei tot Sondag 2 Junie besoek. Hulle wil inwoners bewus maak van veiligheid en sal verskeie gebedsaksies hou. Die groep spring in Mbombela (Nelspruit) weg en besoek 10 dorpe op hul reis. Hulle beoog om op Sondag 2 Junie om 12:40 by die polisiestasie in Bela-Bela aan te kom vir ’n gebedsbyeenkoms. Vandaar sal hulle Modimolle toe reis waar hul die toer om 14 :00 sal afsluit. Alle inwoners en geestelike leiers word vriendelik genooi na die geleenthede. Die foto is in 2017 geneem toe die ryers in Bela-Bela aangekom het.
Die NG-kerkkoor van Mookgophong het op Donderdag 18 April tydens ’n spesiale Paasdiens in die Methodiste Kerk in Mookgophong opgetree. Lede van die koor het almal rooi gedra om die bloed van Christus te simboliseer. Die mannekoor wat ook opgetree het, is deur Mariette Lubbe begelei. Die kerk se ligte is na afloop van die optrede verdoof en kerkgangers het in doodse stilte na hul voertuie beweeg. ’n Inwoner wat die diens bygewoon het, het aan Die Pos gesê sy was oorstelp van die mooi musiek en die gewydheid van die geleentheid.
Lede van Vaalwater se Vroue Landbou-unie het tydens hul jongste maandvergadering op Dinsdag 30 April gewone hangers ’n nuwe baadjie laat aantrek. Die hangers is op kunstige wyse geverf, beplak en versier met hakies, knope en pennetjies. Op die foto is Carlien Vosloo, Zona Visser, Sandra Nortjé, Kotie Hedin, Ina Kotze (voorsitter), Wilma van der Merwe, Berdine en Rese-Mari van Staden, Pam van Heerden en Saartjie Nolte.
Die Vroue Landbou-unie (VLU) Noord het op Maandag 6 Mei en Dinsdag 7 Mei hul jaarlikse streekkonferensie by Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle gehou. Die Soetdoringstreek bestaan uit die takke Aandster (Mokopane), Mabalingwe, Naboomspruit, Nylstroom, Olien (Modimolle), Potgietersrus, Settlers, Sonskyn (Bela-Bela), Warmbad en Vlakte (Settlers). Dié streek het die hoogste punte vir deelname van lede ontvang. Hier ontvang Lilian Weber (trotse voorsitter van die Soetdoringstreek) die wensertifikaat van Leanda Le Cornu, president van VLU Noord.
Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Warmbad-tak het met trots toegekyk toe Emmie Booysen tydens die VLU Noord-kongres haar 60 jaar lidmaatskapbalkie ontvang het. Booysen se verbintenis met die VLU het in 1959 begin toe sy gevra is om ’n tak in Oranjerus te stig. Sy is nog al die jare ’n aktiewe lid en staan as ’n staatmaker met ’n vriendelike gesindheid bekend. Op die foto is Leanda Le Cornu, president van VLU Noord, saam met Booysen tydens die kongres.
Lede van die Vroue Landbou-unie (VLU) se Soetdoringtak het op Saterdag 11 Mei meer geleer oor die Spaanse borduurwerk genaamd “lagatera”. Joan Erasmus het die kursus aangebied. Op die foto (voor) is Marthie van Beek en Ina Joubert. In die middel is Delia Bogaards, Rita McNear, Penny Stoltz, Joan Erasmus (aanbieder en beoordelaar) en Lilian Weber (streekvoorsitter). Agter staan Maria Oberholzer, Meisie Further, Aletta Havenga en Kotie Wagner.
Delia Bogaards, skakelbeampte van die VLU se Soetdoringstreek, het tydens die VLU se jaarlikse streekkonferensie die toekenning as skakelbeampte van die jaar verower. Die Soetdoringstreek het ook die meeste punte in die hand- en borduurwerkafdeling behaal.
Die pragtige Tanya van der Merwe en haar bruidegom Wayne Barnard is onlangs in die huwelik bevestig. Albei is oudleerders van Hoërskool Warmbad en het reeds in gr. 8 vriende geword en saam in 2017 matriek geskryf. Tanya is die enigste dogter van Mignon en wyle Gerrie van der Merwe. Hulle was jare lank betrokke by Eden Christenskool buite Bela-Bela. Wayne is die jongste seun van Wynand en Sarah Barnard, ook van Bela-Bela. Die egpaar gaan hulle in Bela-Bela vestig.
Die Waterberg-tak van die Dendrologiesevereniging het die week van 13‑17 Mei die Blouberg-natuurreservaat in Makhado besoek om identifikasieplaatjies aan die unieke bome in die kampe en hoofroetes te bring. Boomspesies soos die groot kremetart, verskeie kanniedoods, rusperboontjie, njalaboom, appelblaar, trosvy, groot haakbessie, wollerige klapperbos en grootblaarvalsdoring kan daar gevind word. Die groep, onder leiding van Andries van Niekerk, Waterberg-takvoorsitter, is tydens die week se avontuur deur stories van boomkenner dr. Carel Pretorius bekoor. Op die foto is die groep by een van die groot kremetartbome in die reservaat.