’n Kragmeting tussen meestersgewigoptellers van Suid-Afrika en Australië wat by Tsekama Lodge buite Modimolle plaasgevind het, het goed afgeloop. Australië het die spankompetisie gewen. Sharon McCauley van Australië het geseëvier in die vroueafdeling en Koos Henning, fiksheidsinstrukteur van Modimolle, het koning gekraai in die mansafdeling én ’n Suid-Afrikaanse rekord verbeter. Henning is ook die voorsitter van die Suid-Afrikaanse meestersgewigoptelfederasie. “Dit was vir my ’n hoogtepunt in my loopbaan. Hoewel ons span nie kon wen nie, het hulle ’n baie goeie vertoning gelewer,” het Henning gesê. Op die foto is Henning in aksie.
’n Paar plaaslike veteraanfietsryers het van 14-18 Mei aan die avontuurafdeling van die KAP sani2c-fietswedren in KwaZulu-Natal deelgeneem. Die wedren het in Underberg begin en in Scottburgh aan die kus geëindig nadat die ryers ’n totale afstand van 265 km deur plase en gebergtes afgelê het. Die wedren is in 2005 deur melkboer Glen Haw begin om geld vir ’n plaasskool in sy omgewing in te samel. Dié wedren het so gegroei dat dit vandag erken word as die grootste bergfietswedren in die wêreld. Op die foto is Pieter McCord van Bela-Bela, Arien Oerlemans van Mookgophong, SP Engelbrecht en Hendrik Swanepoel van Mokopane wat aan die wedren deelgeneem het.
Sandra Erasmus van Bela-Bela het op Saterdag 25 Mei aan die Elite SA JKA-karatekampioenskap in Johannesburg deelgeneem. Sy het tiende geëindig in die senior elite vrouegroep in karate en derde in die kumite-groep. Sy het ook op dieselfde dag haar Suid-Afrikaanse beoordelaarskwalifikasie ontvang. Saam met haar op die foto is Veroncia Myburgh, haar klubmaat teen wie sy gereeld oefen.
Hierdie gimnaste van die Warmbad-gimnastiek- en tuimelklub het op Vrydag 24 en Saterdag 25 Mei aan die Limpopo-gimnastiekkampioenskap in Thabazimbi deelgeneem. Al die gimnaste van die Warmbad-gimnastiekklub het Limpopo-kleure gekry en neem van 13-15 Junie aan die Suid-Afrikaanse Noordsone-fees deel waar vyf provinsies verteenwoordig word. Voor is Pieter van Emmenis en agter is Mia Strydom, Danieta Beneke, Megan Holtzhausen, Silara vd Merwe, Amelia Louw en Mckayla Vermaak.
Die Euphorbiaskool in Mookgophong het gewys hulle is gedugte teenstaanders toe twee van hul rugbyspanne as toernooiwenners tydens die Bosveld 7’s-liga aangewys is. Op die foto is die o.13-spanlede Vian Cronje, Theuns van Wyk, Victor van Dyk, Cobus Loots (afrigter), Erik Rautenbach, Ruan Swan, AJ Loots, Ettienne de Villiers, Jowan Kühler, Wynand Schalekamp, Stephan Roux, Steven Dreyer en Martin van Heerden (afrigter). Die wedstryd is op Donderdag 23 Mei in Polokwane gespeel.
Die o.11-rugbyspelers van die Euphorbiaskool in Mookgophong is as wenners aangewys tydens die Bosveld 7’s-toernooi wat op Donderdag 23 Mei op die veld van Akadeia Reformia in Polokwane gehou is. Op die foto is Lian Pretorius, Luwellen van Dyk, Waldo Hoffmann, Marco Ras, AJ van Jaarsveld, Juan Tolmay, Ulrich van Staden, Tiago Rentroia en Cobus Loots (afrigter). Martin van Heerden (afrigter) staan agter die seuns.
Die o.13-netbalmeisies van die Euphorbiaskool in Mookgophong het skoonskip gemaak en is as toernooiwenners aangewys tydens die Bosveld 7’s-liga op Donderdag 23 Mei by Akademia Reformia in Polokwane. Op die foto (voor) is Ané Pretorius en Minette Tolmay. Agter is Jani van Heerden (afrigter), Anja Labuschagne, Anita van der Merwe, Lauretta Yzzel, Chinika Pretorius, Izabella Rentroia, Chaldené Burger en Isabelle de Beer. Lani Briel was afwesig met die neem va die foto.
Leané van Deventer van Laerskool Nylstroom is tot die o.12 Maroela-hokkiespan verkies en het op Saterdag 25 Mei by Hoërskool Pietersburg aan die Boababfees deelgeneem. Sy gaan van 23-27 Junie aan die o.12-hokkietoernooi in Tzaneen deelneem.
Armand Conradie, heelagter van die Nylies, lê oop op pad doellyn toe vir sy drie in die hoekie. Dit het die telling op 12 elk te staan gebring. Die Nylies was rustyd met 12-7 agter. Foto: Herman Steyn
Zandré Booysen van Hoërskool Nylstroom se eerste rugbyspan word hier van die veld gedra nadat hy ’n kopbesering tydens ’n duikslag opgedoen het in die taai wedstryd teen Hoërskool Helderkruin. Hy het 21 steke ontvang en sterk tans tuis aan. Foto: Herman Steyn
Laerskool Nylstroom se eerste rugbyspan het na die Limpopo-semifinale wedstryde op Maandag 3 Junie by Hoërskool Warmbad deurgedring. Voor sit Hendry van Staden, Juvan van der Merwe, Corné Ferreira, Stiaan Opperman en Thabang Mashaba. In die tweede ry is Zian Vermeulen, Alec Durand, Landré van Staden, Walter Pretorius, HP Van Staden, Leander Janse van Rensburg en Matthew Eberwein. In die derde ry is Jannes van Zyl, Wihan Bezuidenhout, Altus du Plessis, Franco Steenkamp, Willie Kruger, Brenden Davey en Tiaan Steffen. In die agterste ry is die afrigters Franna van Zyl, Roelf Vorster, Hennie Steffen en onderwyser Brandon Neveling.
Kolskoot! – Oud-Warrie Reuben Brent-Meek (20) van Bela-Bela het tydens die onlangse Huyndai-wêreldboogskietkampioenskap in Antalya, Turkye, algeheel derde op die wêreldranglys geëindig nadat hy ’n finale telling van 708 uit ’n moontlike 720 punte ingeryg het. Brent-Meek is die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie posisie beklee. Mike Schloesser van Nederland is tans nommer een in die wêreld met 713 punte. Brent-Meek gaan binnekort saam met die Suid-Afrikaanse span na Nederland toer vir die wêreldkampioenskap. Op die foto is Brent-Meek in aksie tydens die kompetisie in Antalya. Foto: WorldArchery.org