Skeie vlieg by klub se opedag
Die skeie het op Saterdag 25 Mei gevlieg tydens die Naboomspruit-jukskeiklub se opedag.
Nie minder nie as 33 spanne van so ver as Polokwane en Gauteng het deelgeneem. Al 16 bane was beset deur die 132 deelnemers. Die klubs wat deelgeneem het, was die Tarentale (Mokopane), Die Oog, Pietersburg, Familia (Gauteng-Oos), Vat Vyf, CPR (Gauteng-Noord), Best of the Best (Gauteng-Noord), Negester (Bela-Bela), Kokanje en Nylstroom (Modimolle), Leeupoort (Rooiberg), Shamah (Bela-Bela) en die Naboomspruit-klub.
Die span van CPR was die wenners in die A-afdeling terwyl die Vat Vyf-span skoonskip gemaak het in die B-afdeling. Die spanne van Naboomspruit, Kokanje en Best of the Best was die wenners van die C-afdeling.
Die oudste deelnemer was die 94-jarige Hennie Oosthuizen van die Naboomspruit-jukskeiklub.
Die klub het al die ondernemings in die dorp wat hulle ondersteun, bedank.
Belangstellendes wat wil aansluit by die Naboomspruit-jukskeiklub kan vir Johan Pretorius bel by tel. 082 095 5050.



