Nóg ’n Sonskyndorper skitter op The Voice se verhoog
Soné Joubert (26), wat in Bela-Bela grootgeword het, is die tweede Sonskyndorper wat gehore regop laat sit in M-Net se gewilde sangprogram The Voice.
Sy is ’n oudleerder van Laerskool én Hoërskool Warmbad.
Die musiekonderwyser Johan “Fatman” Brümmer het die land aan sy voete gehad toe hy in ’n vorige seisoen van dié program tot die finale ronde deurgedring het.
Die sanger Riana Nel, een van die beoordelaars in The Voice, het Joubert vinnig opgeraap tydens die “geheime optrede”, waar beoordelaars nie die sangers kan sien nie. Sy het die lied Vier seisoene kind van Gian Groen gesing. Die ander beoordelaars is sangers Francois van Coke, Lira en Riky.
Joubert het aan Die Pos gesê sy neem al van 11-jarige ouderdom aan kompetisies soos die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste en kompetisies in Amerika deel.
Marga Roos, sangafrigter van Encore Studio’s in Bela-Bela, het haar jare lank afgerig. Daarna het sy saam met sanger Tommy Dell gewerk, asook saam met Ben Eloff.
Joubert was vroeër deel van die sanggroep Dolce Chix saam met Sanli Botha (oud-Nylie), Jeane Alberts (oud-Warrie) en Coba Draper (oudleerder van die Waterbergskool vir CVO in Modimolle).
Haar ma, Juanita Joubert, wat lank by die Bela-Bela-polisie betrokke was, praat met lof van haar dogter.
Joubert woon tans in Gordonsbaai en werk by Ebervet Vetshop in Lion Square in Somerset-Wes.
“Ek is deur Malie Kelly raakgesien nadat sy na my video van die liedjie I’ll be there van Jess Glynne gekyk het. Sy het my gekontak en gevra of ek aan The Voice wil deelneem,” het sy gesê.
“The Voice is asemrowend. Die ondervinding om deel van so ’n groot produksie te wees, slaan my asem weg. Ek geniet elke oomblik daarvan en ek leer elke dag.”
Dit was vir Joubert veral lekker om tydens die laaste uitsending saam met bekende sanger Jo Black te werk wat haar help slyp het vir haar optrede.
The Voice word elke Sondag om 17:30 op DSTV-kanaal 101 uitgesaai. Luisteraars stem vir hul gunstelinge. Mense kan op The Voice SA se webtuiste of deur die The Voice SA se toep vir die sangers stem.
Om vir Joubert te stem, moet mense haar deelnemernommer, 17, na tel. 33962 SMS.
Elke SMS kos R1,50 en mense kan tot 100 keer stem.
“Ek wil graag ’n verskil in die Afrikaanse musiekbedryf maak,” het Joubert gesê.



